Amerikaanse produsente van wit mielies voorspel ’n goeie komende oes en glo daar sal meer as genoeg wees om aan die verwagte vraag uit Suid-Afrika te voldoen, sê die Amerikaanse Graanraad (USGC).

Me. Melissa Kessler, woordvoerder, het op navraag van Landbouweekblad bevestig dat daar sedert die begin van Maart vanjaar 70 579 ton wit mielies na Suid-Afrika verskeep is. “Sowat 1% van die VSA se totale mielie-oes is wit mielies. Die geraamde oes verlede jaar was 3,5 miljoen ton waarvan 1,4 miljoen ton uitgevoer is,”sê sy.

Me. Annatjie Loio, voorsitter van die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika (Gosa) en self ’n handelaar, het ook bevestig dat sy bewus is van twee skepe met wit mielies wat uit Amerika op pad is en verlede week al in die omgewing van Walvisbaai was.

Mnr. Christo Joubert, senior navorser van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), sê sodra die eerste mielies afgelaai word, behoort dit afwaartse druk op die prys te hê. Hy glo die prys is op die oomblik heeltemal te hoog en behoort onder R4 000/ton te wees.

Mexiko en die VSA is die voorkeurverskaffers van wit mielies aan Suid-Afrika, maar daar is nog regulatoriese probleme met sekere geneties gemodifiseerde (GM) kultivars uit Amerika wat nog nie in Suid-Afrika goedgekeur is nie.

Joubert sê hy het verneem daar word goed gevorder om dié probleem op te los en dat dit vorentoe nie ’n struikelblok behoort te wees nie. Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) se syfers het die invoere vir die bemarkingsjaar teen 1 April op 72 500 ton wit mielies (uit Mexiko en Zambië) en 1,578 miljoen ton geel mielies gestaan. Met die bemarkingsjaar wat 30 April eindig is dit nog onder Graan SA se raming van 1,7 miljoen ton.

Joubert glo dit sal op die ou end 1,8 miljoen ton wees omdat daar vyf skepe met geel mielies buite hawens lê wat voor die einde van die maand afgelaai kan wees.”Daar word duidelik nou meer geel mielies ingebring as wat die vraag is, maar dit is goed om moontlike bottelnekke vorentoe te voorkom.”

Volgens hom is daar in een week in Februarie 200 000 ton mielies en koring deur ons hawens ingevoer en hy voorsien nie probleme met die logistiek om tot 10 miljoen ton in te voer nie. Loio sê graanhandelaars, hawe-owerhede, Transnet en vervoermaatskappye hanteer benewens die mielie-invoere ook nog die normale invoere van ander grane en oliesade. “Die hele graanhanteringsketting verdien lof daarvoor,”sê sy.

Gegrond op die jongste oesskatting van 7,065 miljoen ton (3,071 miljoen ton wit en 3,995 miljoen ton geel mielies) het Graan SA sy raming vir wit mielie-invoer vir die huidige seisoen aangepas van 73 000 ton na 110 000 ton. Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom, sê vir die 2016/’17-bemarkingsjaar (wat volgende maand begin) is die raming 3,8 miljoen ton, waarvan 1,1 miljoen ton wit en 2,7 miljoen ton geel mielies behoort te wees.

Sihlobo sê volgens Reuters het Zambië mielie-uitvoere opgeskort om plaaslike tekorte te verhoed en is dié land se regering besig met ’n vooraadopname. Dit kan groter druk op Suid-Afrika plaas om tekorte in buurlande te help aanvul.