Wedvlugduiwe is sy nuwe stokperdjie, maar ’n ander gevleuelde wese – ’n engel – het sy lewe gered: sy boesemvriend, mnr. Louis van der Vyver, ’n afgetrede boer van Oos-Londen, wat een van sy niere aan Landman geskenk het.

Landman se niere het in 2014 ná ’n hartomleiding gaan staan. Toe het die gewag vir ’n skenkernier begin, vertel hy per selfoon uit sy hospitaalbed in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad aan Landbouweekblad. Hy moes vir vier jaar drie keer per week na Port Elizabeth reis om dialise te kry om sy liggaam skoon te spoel; 400 km heen en weer, plus ’n uur se voorbereiding in die teater en vier uur vir die dialise. “Dit was nege uur, ’n volle dagtaak vir ’n kantoorwerker, drie keer per week,” vertel hy.

Dit het lank geduur om ’n geskikte skenker te kry. Van der Vyver (67) het ’n nier aangebied en toetse het getoon hy is ’n geskikte skenker. Hulle is al 44 jaar boesemvriende. Landman en sy vrou, Lorenda, is op dieselfde dag as Van der Vyver en sý vrou, Carien, getroud: 3 April 1976.

Die groot oomblik het vandeesweek aangebreek toe die skenkernier met ’n laparoskopiese prosedure deur ’n snytjie uit Van der Vyver verwyder en in Landman oorgeplaas is. Die nier het dadelik begin werk. “Die spesialis, prof. Elmin Steyn, is baie tevrede.,” vertel hy laggend.

Nou kan hy nie wag om terug te gaan plaas toe nie, waar sy seun, Chris (35), intussen die boerdery, Mooimelk Koeihotel, oorgeneem het. Landman mis die plaas en sy duiwe. Hy het onlangs in dié sportsoort begin belang stel, hokke gebou en duiwe gekoop.

Intussen lê tien dae in die hospitaal en dan nóg tien dae naby aan die dokters vir Landman voor. Wanneer hy ontslaan word, gaan hy en Lorenda in hul dogter, mev. Liesel Coetzer, se gastehuis in Simonstad bly. As dit goed gaan, kan hulle dan huis toe gaan.

Landman is aangedaan oor die oorweldigende ondersteuning wat hy van vriende en familie van heinde en ver gekry het. “Dit laat ’n mens klein voel. Dis ongelooflik hoe meelewend mense is. Baie wou vir my ’n nier skenk en op die ou end het elf voornemende skenkers in die ry gestaan,” sê hy aangedaan.

Dan is daar weer ’n lag in sy stem: “Nou begin my nuwe lewe. En my duiwe wag vir my.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.