Dr. Ivan Meyer, tans die Wes-Kaapse minister van landbou, sê daar word met groot hartseer van Van Rensburg afskeid geneem.

Van Rensburg het die pos van 2009 tot 2014 beklee. Meyer sê in ’n verklaring Van Rensburg was ’n ware diensbare leier wat met sy stil, beskeie geaardheid die landbougemeenskap van die provinsie gedien het.

Volgens Meyer het Van Rensburg die rol en bydrae van die landbou-werker ten volle waardeer. Met dit in gedagte het hy die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar-kompetisie eksponensieel laat groei. Van Rensburg het ook die rol erken wat die Landbouwerkers-Prestigeforum in die provinsie se landbou vervul.

Die departement is tydens Van Rensburg se termyn verskeie kere vereer. Vir drie jaar agtereenvolgens, van 2011 tot 2013, is dit deur die Suider-Afrikaanse instituut vir staatsouditeure aangewys as die departement in Suid-Afrika met die beste jaarverslaggewing. Die onafhanklike internasionale voedselbeleidnavorsingsinstituut het die departement tydens Van Rensburg se termyn as die beste provinsiale navorsingsdepartement in die land benoem.

Meyer beskryf Van Rensburg as ’n baanbreker en etiese leier wat groot empatie met almal in die landbousektor gehad het. “Ons salueer oom Gerrit van Rensburg vir sy groot bydrae tot die groei en welvaart van die landbousektor in die Wes-Kaap. Mag sy siel in vrede rus.”