Hy het die vorige week geval en was daarna weens verdere komplikasies in 'n koma beland.

Marais is in 1932 op die plaas Blouwater by Molteno in die Oos-Kaap gebore en het in 1950 daar saam met sy pa begin boer. In 1966 het hy, sy vrou, Drinie, en hul drie seuns na Cedarville verhuis. Hier het hy op die plaas Die Kroon as Merino-wolboer saam met sy seun Andries met van die beste bloedlyne in die land geteel, vertel Marthinus.

Nadat hy 40 jaar op Die Kroon geboer het, het hy en Drinie in Potchefstroom afgetree. Hy kon egter nie stilsit nie en het in sy 80’s weer in die Rooipoort-gebied op die plaas Heiland saam met sy aangetroude kleinseun mnr. Albert Zitzke met Vleismerino’s en Bonsmaras begin boer. Hy het ook steeds perd opgesaal, skaap gespuit en “kopskote geskiet”.

Hy het graag oor ’n bees gesê dit kan enige kleur wees, solank hy rooi is, vertel Marthinus. “Sy liefde vir diere het tot op sy Toyota se persoonlike nommerplaat gepronk: ‘Blesbok – NW’."

Marthinus sê sy oupa se heengaan laat nie net ’n leemte in die harte van sy familie nie, maar ook in die Suid-Afrikaanse boerderygemeenskap. “Vir vele jong boere, jagters en perdeliefhebbers was hy ’n mentor en voorbeeld van hoe om, in liefde en nederigheid, na die natuur en mekaar om te sien.

“Al sou mens ander toekennings en posisies kon noem, is dit sy rol in die direksie van BKB (1992-1998) en die KwaZulu-Natalse Jagtersvereniging se erkenning aan hom vir sy lewenslange rol in omgewingsbeskerming wat uitstaan: ’n Man met ’n diep liefde vir die bewaring van sy land en haar natuurskoon.”

Marthinus vertel sy oupa, wat grootgeword in die Stormberge en hom gevestig het in die suidelike Drakensberge, se oë was, soos die Psalm-skrywer s’n, altyd opgeslaan na die berge. “In sy laaste gesprek, voor hy finaal in ’n koma verval het, het hy sy seun weer vertel oor wat ’n ongelooflike rydier sy geliefde skouperd Golden Clipper was. Hy is nou verenig saam met sy oorlede geliefdes, waar hy hom nie meer oor droogtes hoef te bekommer nie. Ons is seker hulle het reeds ’n perd opgesaal.”

Hy laat sy vrou, twee van sy seuns (die derde seun is in 2002 oorlede), drie skoondogters, dertien kleinkinders en tien agterkleinkinders agter.