“Die RFA is verheug dat die N3-hoofweg weer vir verkeer oopgestel is. Terwyl ons vertragings en opeenhopings verwag weens verkeersdruk, kan ons nou die noodsaaklike taak hervat om goedere landwyd en oor Suid-Afrika se grense af te lewer.”

Kelly sê die RFA probeer tans sy bes om noodsaaklikhede te neem na waar dit die nodigste is, en die groot agterstand weens die afgelope week se onluste uit te wis.

“Ons doen ons bes onder moeilike omstandighede om te verseker dat niemand ’n tekort aan voedsel, brandstof of medisyne beleef nie. Ons werk nou saam met ons kollegas in die kleinhandelsektor om hulle in staat te stel om voorrade by hul winkels aan te vul.”

Volgens Kelly is die N3 ’n strategiese handelsroete waarop daar daagliks goedere ter waarde van meer as R3 miljard vervoer word. “Gelukkig kan vragmotors begin om weer die ekonomie se wiele aan die rol te kry en besighede help om weer hul bedrywighede te hervat.”

Hoewel die onluste ’n groot impak op elke maatskappy en persoon in Suid-Afrika gehad het, meen Kelly dit was bemoedigend om te sien hoe gemeenskappe saamstaan, hul eiendom beskerm en saamwerk om dit wat vernietig is, te herbou.

“Die beskerming van vragmotors, personeel, vragte en verspreidingsentrums bly vir die RFA van uiterste belang. Ons versoek wetstoepassers wat die N3 beveilig om aktief en paraat te bly. Die veilige deurgang van goedere en mense op hierdie roete is noodsaaklik. Ons kan nie toelaat dat die afgelope week se sinnelose geweld en plundery herhaal word nie.”