Hy verwelkom dit dat pres. Cyril Ramaphosa die misdadigheid en wetteloosheid in dele van Suid-Afriuka veroordeel het en dat die weermag ontplooi word om die orde te herstel. “Agri SA wil aansluit by die president in die veroordeling van die optrede van wetsoortreders en versoek dat die opdragte van die president onmiddellik uitgevoer word om verdere misdadigheid te voorkom.”

Hy sê die wetsoortreders wat aan die geweld deelneem, saai tans verwoesting. Hulle beskadig infrastruktuur en toon geen ontsag vir die reg nie. Die uittarting van die gesag van die regering mag nie geduld word nie en ’n beroep word op die polisie gedoen om alle hulpbronne aan te wend om die verspreiding van die misdadige optrede te voorkom en die skuldiges in hegtenis te neem.

Weens die geweldpleging is verskeie vervoerstelsels in KwaZulu-Natal en Gauteng opgeskort, onder meer die N3-tolroete wat ’n belangrike roete na die Durbanhawe is. "Groot hoeveelhede sitrus ter waarde van ongeveer R592 miljoen moet weekliks na die Durbanhawe vervoer word. Enige ontwrigting hiervan lei tot finansiële verliese vir produsente en verhinder dat die produk betyds die buitelandse mark bereik."

Vercueil sê Agri SA het ook berigte uit KwaZulu-Natal ontvang van die afbrand van suikerriet en ander landerye en dat produsente nie die brande kan blus nie omdat hulle vrees vir hul lewe. Die situasie raak ook veeboere wie se voervoorraad afgebrand word en verskeie saagmeulens wat gesluit word. Verdere berigte dui ook daarop dat die polisie nie die nodige beskerming aan die produsente kan bied nie en in gevalle nie weet hoe om die situasie te hanteer nie.

Vercueil sê Agri SA doen ’n dringende beroep op die minister van polisie om bykomende polisiehulpbronne aan die provinsie beskikbaar te stel om produsente by te staan om verdere brandstigting te verhoed.

Hy sê die misdadigheid van die geweldpleging het niks te doen met die reg tot vreedsame protes nie, maar word nou gebruik om die land se infrastruktuur te vernietig en gewone burgers se lewens te bedreig. Agri SA doen ’n beroep op landsburgers om hulle te distansieer van dié misdadige optrede. “Ons moet nou die land se ekonomie opbou.”