Volgens News24 het winkels en ondernemings gister weer begin heropen en mense kon kosvoorraad begin aanvul nadat alles in die land verlede week tot stilstand gekom het. Die onrus het 10 dae gelede (13 Januarie) begin toe veiligheidsmagte betogings teen brandstofprysverhogings van 150% met geweld onderdruk het. In dié tyd was pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe op besoek aan Rusland, maar hy sou gisteraand na Zimbabwe terugkeer.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie en verteenwoordiger van Zimbabwe se boere, sê hoewel stede en groter dorpe gebrand het, was daar geen aanduiding dat die geweld na plase oorgespoel het nie. “Winkels was gesluit, paaie afgesper, hospitale het geen medisyne gehad nie, vervoerstelsels het tot stilstand gekom, daar was geen diesel nie en boere het eerder op hul plase gebly.”

De Jager, wat gister in Berlyn, Duitsland, by ’n byeenkoms met landboubesighede en ministers van landbou was, sê mnr. Douglas Karoror, adjunkminister van landbou van Zimbabwe, het voorgegee dat alles in sy land onder beheer is. “Hy sê die onrus word deur die opposisie en nie-regeringsorganisasies aangevuur en dat enige buitelandse belegging veilig is en beskerm sal word.

Bodemlose put

“Hy was vies vir my omdat ek gesê het totdat ons Afrika van korrupsie en nepotisme bevry het, sal alle ontwikkelingshulp en beleggings in ’n bodemlose put beland. Dit moet skoon saketransaksies of geen saketransaksies wees nie. Hy wou weet wat ek daarmee bedoel. Verlede jaar is daar byvoorbeeld vir die hele jaar net een 99 jaar-huurkontrak in Zimbabwe toegestaan.”

Intussen was die internet te midde van die onrus in Zimbabwe geblokkeer, wat dit bykans onmoontlik gemaak het om op sosiale media te kommunikeer. Nogtans het grusame foto’s, beeldmateriaal en verslae hier en daar die buitewêreld bereik.

Mnr. Ben Freeth, Zimbabwiese boer wat vroeër erg aangerand en van sy plaas verdryf is, het op die derde dag nadat alles tot stilstand gekom het, in ’n boodskap wat hy uit die land kon kry, gesê voertuie word aan die brand gesteek en mense aangerand. Die meeste hospitale was sonder noodsaaklike medisyne en personeel omdat dokters nie daar kon uitkom nie. Hy het gevra mense moet vir Zimbabwe bid.

In nog ’n boodskap wat Suid-Afrika bereik het, vertel ’n vervoerkontrakteur van geweervuur en brande in Harare waar minstens twee polisiekantore en drie tolhekke afgebrand is. Verskeie foto’s van lewensverlies het ook in die sosiale media verskyn.

De Jager sê die situasie in Zimbabwe veroorsaak dat die groot graantekorte wat vanjaar verwag word, net groter sal word. “Insette kom nie op plase uit nie en boere loop die laat planttyd ook vanjaar mis.”

Die Internasionale Graanraad beraam ’n afname van 45% in Zimbabwe se mielie-oes vir die 2018-’19-bemarkingsjaar. ’n Oes van 1,2 miljoen ton word verwag. Gegewe sy plaaslike verbruik van tussen 1,8 miljoen en 2 miljoen ton sal sowat 800 000 ton mielies ingevoer moet word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.