Beweerde ontevredenheid en onsekerheid oor munisipale leierskap by die plaaslike munisipaliteit van Ditsobotla het glo bygedra tot die nuutste vlaag geweld wat tans op paaie in en om Lichtenburg voorkom. Mnr. Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder by Agri Noordwes, sê paaie uit Lichtenburg na Coligny en Ottosdal is tans gesluit.

Ontevrede inwoners het glo motorbande aan die brand gesteek en gooi klippe na voertuie op dié paaie.

Vragmotor aan die brand gesteek en een persoon geskiet

Volgens Pienaar is ’n vragmotor van Henwil Chickens, wat lewendige hoenders vervoer het, aan die brand gesteek. Sowat 7380 hoenders was op die vragmotor. Die bestuurder, Petrus Lesitedi, is nie beseer nie, maar is erg getraumatiseer. Dié verlies beloop sowat R2 miljoen. 

Die bestuurder van ’n voertuig het glo vroeër een van die persone wat ’n pad versper het, geskiet. Min inligting is nog oor die voorvalle beskikbaar.

Pienaar maan boere om met veiligheidsgroepe in verbinding te tree en seker te maak of dit veilig is om ’n roete na die dorp te gebruik voor hulle daarlangs ry.