Mnr. Jeff Every van Amadlelo Agri, ’n suiwelonderneming wat verskeie melkplase in die kommunale gebiede in die Oos-Kaap bestuur, sê slegs een van die onderneming se plase ondervind steeds probleme met waterbeskikbaarheid vir besproeiing. Die Shiloplaas naby Wittlesea het te min water om te kan besproei nie, aangesien die vlak van die Waterdown-dam tans onder 35% is. Hulle kan slegs besproei as die vlakke hoër is as 40%.

“Die plaas het goeie herfsreën gemeet, maar nie genoeg om die dam te vul nie.”

Die boerdery se grootste plaas, Seven Stars by Keiskammahoek, moes aan die einde van 2019 die koeigetalle begin verminder en die koeie na die onderneming se ander plase skuif aangesien die plaas slegs die helfte van die normale reënval in 2019 gemeet het en die munisipale opgaardamme te leeg was om water vir besproeiing te lewer. Voldoende reënval en damvlakke het die boerdery nou in staat gestel om weer voort te gaan.

“Van die plase moes hul kuddes kleiner maak toe daar nie genoeg water was nie. Nou moet kuddes weer opgebou word. Jy kan nie ’n melkplaas aan- en afskakel nie.”

Mnr. Chris Brockwell, voorsitter van die Bedfordboerevereniging, sê die vlaktes by Bedford het goeie laatsomerreënval gekry en die boere sal deur die winter kan kom. “Die bokant van die Winterberge was nie so gelukkig nie, maar sal kan deurkom. Ons sal steeds ’n behoorlike lente moet hê.”

Mnr. Matthew Morgan, voorsitter van die Winterbergboerevereniging, sê hulle het die afgelope drie weke goeie reën ontvang, al is dit ’n bietjie laat in die groeityd, “maar dit het omtrent al my damme volgemaak en die riviere loop weer.

“Hopelik lê daar ’n nat winter voor, wat fantasties sal wees om ons reg te kry vir ’n goeie lente en die fonteine sterker sal laat loop voor die somer.”

Vooruitsigte

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantoor in Port Elizabeth lyk die seisoenale vooruitskattingsmodelle bemoedigend vir die Oos-Kaap van Mei tot Julie, veral oor die kusdele en die aangrensende binneland. Droër toestande word slegs oor die noordelike dele van die munisipale distrik Joe Gqabi voorspel, wat normaalweg nie reënval gedurende die winter ontvang nie.

Die voorspellings dui ook aan dat die Winterberge en omliggende gebiede bogemiddelde reënval van April tot middel Junie kan verwag waarna droë toestande van die middel van die winter na die lente verwag word.

Warmer dag- en nagtemperature word vir die tydperk van Mei tot Augustus voorspel. Die kans op sneeu ná die einde van dié tydperk is nie beduidend nie.