Mnr. André Kirsten van Kirsten Boerdery by Darling en Graan SA-verteenwoordiger vir die Swartland sê met die uitsondering van dele by Eendekuil wat middel-Augustus benadeel is deur die oostewind wat dae aaneen gewaai het, is daar goeie potensiaal in die Swartland.

“September is die deurslaggewende maand. As ons dan nog twee keer 15 mm reën kry, kan ons ’n goeie oes behaal. Die gewasse is gesond en die reën en koue hou die bolwurms in toom.”

Mnr. AJ Louw van Tweekuil Plase by Malmesbury sê die gesaaides lyk goed. Hulle het einde Augustus 30 mm reën gekry. Aansienlik minder boere moet nog hul skape voer, en noudat die dae begin langer word, groei die weidings ook beter, sê hy.

By Moorreesburg is die koring in die aar en die kanola haas uitgeblom, maar daar is groot optimisme, want die gewasse lyk goed. Hy het die laaste naweek in Augustus 19 mm reën gekry, sê mnr. John Slabbert van die plaas Skilpadvlei. Hy bly beïndruk met die skyfplanter wat hy ’n paar jaar gelede aangeskaf het.

“Dis my beste jaar met die skyfplanter en amper die beste vandat ek begin boer het.” Soos ’n mens verder noord in die Swartland inbeweeg, lyk sake slegter.

Mnr. Thys Grobbelaar van Koringkloof sê hoewel dit aan die begin van die seisoen goed gereën het, kry hulle sedertdien min reën op ’n keer. Hulle het verlede naweek 10 mm reën gehad. “Soos dit nou lyk, gaan ons iets oes.” Hy is bekommerd oor die vog in die ondergrond wat totaal uitgeput is.

Boonop is daar die afgelope tyd baie boorgate gesink. Die weiding op die lande is darem genoeg dat hulle ’n maand gelede ophou voer het. Hy sê die warm oostewind wat middel-Augustus gewaai het, het die stinkluise wat gewoonlik eers later in die jaar kop uitsteek, hul verskyning laat maak. “Dis die eerste keer in my lewe dat ek so vroeg teen stinkluise moes spuit.”

Caledon 'lyk goed'

“Dit lyk goed,” sê mnr. Abrie de Wet van GAF Boerdery buite Caledon. “Hier staan nie ’n rekordoes nie, maar dit kan bogemiddeld wees.”

Hy sê by hom het dit verlede naweek net 11 mm gereën, maar die koring, gars en kanola is gesond.

“Dit lyk beter as verlede jaar. Die 155 mm reën wat ons al in die groeityd gekry het, is minder as ons langtermyngemiddelde, maar meer as wat ons verlede jaar teen die tyd gekry het.” Hy sê die graan is vanjaar stadig en sal baat vind by nog reën.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.