Alkohol sal plaaslik verkoop mag word, maar rokers sal waarskynlik tot vlak 2 moet wag. Huiswerkers sal ook weer kan begin werk.

Me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die regulasies vir vlak 3 in die Staatskoerant gepubliseer. 

Sy het tydens die bekendmaking daarvan gesê vlak 3 laat toe dat die meeste produktiewe sekore van die ekonomie heropen kan word, hoewel daar steeds aan streng maatreëls voldoen moet word om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Hoewel die hele land na vlak 3 sal beweeg, sal brandpunte met ’n hoë infeksiekoers na ’n hoër vlak geskuif kan word. 

Die aandklokreël wat beweging na agt saans beperk, geld ook nie tydens vlak 3 nie, en oefening is daagliks vanaf 06:00 tot 18:00 toelaatbaar, hoewel steeds nie in groepe nie.

Bestaande inperkingsmaatreëls op samekomste sal steeds geld. Om te verseker dat afstandhouding volgehou word, sal restaurante, kroeë en tavernes steeds nie toegelaat word om soos voor die inperking handel te dryf nie – net die aflewering en afhaal van kos en alkohol word toegelaat. Sakereise en konferensies, en die opening van haarsalonne en skoonheidsdienste word ook nog verbied. 

Alkohol en sigarette 

Die verkoop van alkohol by gelisensieerde besighede sal weer vanaf 1 Junie onder beperkte tye geld. Drank mag op Maandae tot Donderdae vanaf 09:00 tot 17:00 verkoop word, maar dit mag nie op die perseel gedrink word. Net tuisverbruik word toegelaat. 

Mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het verduidelik dat alkohol by enige gelisensieerde perseel verkoop mag word. Dit sluit in restaurante, tavernes en sjebiens. Daar is met die provinsies geskakel oor hul onderskeie alkoholregulasies sodat plekke met lisensies vir drankverbruik op die perseel ook toegelaat sal word om dit vir wegneemdoeleindes te verkoop.

Vanaf Vrydag 29 Mei kan alkohol ook na gelisensieerde persele vervoer word.

Rakende die omstrede volgehoue verbod op die verkoop van sigarette wou Dlamini-Zuma nie indringende vrae beantwoord nie, siende dat die regering hieroor voor die hof gedaag word. Sy het wel aangedui dat die verkoop van tabak, tabakprodukte, e-sigarette en verwante produkte verbode bly, behalwe dit wat vir die uitvoermark bestem is.