Goeie reën kan vanaf 6 tot 11 Februarie in die somersaaigebied val, sê prof. Peet Pienaar, wat homself as 'n weerwaarnemer beskryf.

Opvolgreën kan vanaf 21 Februarie val. Dié neerslae gaan verseker 'n “bondel” reën wees, voorspel hy. Die neerslae in Februarie gaan dieselfde patroon volg van reën wat in Januarie in dié droogtegeteisterde somersaaigebied voorgekom het, meen dié gewilde weer-ghoeroe.

Nóg goeie nuus vir die somersaaigebied is dat nóg reën in Maart, April en Mei gaan val, sê Pienaar.

Sy vorige voorspelling oor somerreën vir middel en einde Januarie, wat in Landbouweekblad van 8 Januarie gepubliseer is, het ongekende belangstelling op Landbou.com ontlok.

Ondanks die droogte meen hy daar is genoeg tyd oor om nog te plant. Boere kan kort groeiers, hawer en sorghum plant. “Hier is nog ‘n goeie drie maande van groei vóór die eerste ryp in Mei,” meen hy.

“My bekommernis is dat boere in die somersaaigebied nie genoeg kos vir hul diere sal hê nie. Boere moet hawer en graansorghum plant. Dis 'n Josefsbeleid: Elke boer wat diere het, móét 'n Josefsbeleid hê. Dit beteken jy moenie die graanstoppels wat langs jou lande lê, aan die brand steek nie. Baal, verpak en maal dit. Daar is baie kos in daardie oesreste. Al is die jaar hóé wonderlik.”

Hy is egter bekommerd oor neerslae in die winterreëngebied, wat laat reën gaan kry. “Dit sal wel van April tot Julie bietjie reën, maar ek verwag die goeie reën eers vanaf Augustus. Dit sal ook tot laat in die jaar reën. Die laat neerslae beteken skraps weiding vir die winterreënstreek.”

Pienaar berus sy voorspellings op die stand van die maan. Pienaar sê die volmaan het ‘n baie kragtige invloed op water. “Het jy al gesien as jy soms soggens vroeg op die plaaspad ry, is dit nat? Dit is die volmaan wat die vog uit die grond uit trek.”

Hy beskryf die nuwemaan as ‘n Blou Bul, en met dié maan naby aan die aarde, is die kanse baie goed vir reën in die somersaaigebied. (Dis noord van ‘n denkbeeldige lyn vanaf Garies, oor Beaufort-Wes na Port Elizabeth.)  Die volmaan is vir hom 'n Stormer, wat weer dui op reën op sy tyd in die winterreënstreek.