Nog swaar reën word op Woensdag 6 Desember 2017 oor die suidelike en suidoostelike dele van Limpopo, die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal, Noordoos-Gauteng en dele van Mpumalanga verwag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat die verwagte swaar neerslae tot oorstromings op plekke kan lei.

Mnr. Jan Vermeulen, weervoorspeller, sê teen Woensdag om 08:00 is die meeste reën vir die voorafgaande 24 uur, 81 mm, by Mandini aan die KwaZulu-Natal Noordkus en by Leeukop in Noordwes gemeet. Die naasmeeste reën, 43 mm, is by die Kruger Park Internasionale Lughawe in Mpumalanga aangeteken. By Marken in Limpopo is 31mm aangeteken en 29mm by Irene in Gauteng. Jamestown in die Oos-Kaap het 15 mm reën gehad, met 13mm by Orania in die Noord-Kaap en 11 mm by Frankfort in die Vrystaat. 

Boere wat wil plant, benoud

Intussen sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, talle boere in die sentrale en westelike somersaaigebiede van die land is benoud terwyl hulle wag op reën om te kan plant. “Ongelukkig lyk die toestande vir reën in dié dele nie belowend in die volgende week of twee nie. Die hoogdrukstelsel wat tans die gebied oorheers, is baie sterk.”

Volgens Van den Berg is veral boere in die Wes-Vrystaat en die suidelike dele van Noordwes bekommerd omdat die optimale planttyd in dié dele teen die middel van Desember begin uitloop. “Boere kan wel nog tot einde Desember in dié gebiede plant.”

Van den Berg sê veral boere in die omgewing van Wolmaransstad, Delareyville en Schweizer-Reneke het nog nie genoeg reën gekry om te kan plant nie.

Die weerdiens se voorspellings dui tans nie beduidende reënval in dié gebiede binne die volgende sewe dae aan nie. 

Die weerdiens se nuutste reënval metings is op Twitter beskikbaar