Volgens Van den Berg is die groot vraag tans of die heersende droë toestande in die res van die 2017-’18-seisoen gaan voortduur sodat dit ’n droë jaar geklassifiseer kan word en of die afgelope deel van die seisoen die droë gedeelte van die seisoen was.

Hy skryf in sy jongste weerverslag dat langertermynvoorspellings steeds gunstig is, terwyl korttermynvoorspellings verbeter het vir die laaste deel van Januarie en veral vir Februarie.

“Veral in die westelike dele van Suid-Afrika is die weidingstoestande op ’n mespunt, maar dit lyk tog asof die kanse vir hierdie gebiede begin verbeter vanaf die tweede week van Februarie.” 

Swakker toestande en sikloon AvaDie swakker toestande met hoë temperature en baie min reën wat veral in die eerste deel van Januarie voorgekom het, kan volgens Van den Berg grootliks aan sikloon Ava toegeskryf word. Dié sikloon het naby Madagaskar voorgekom en droë, warm lug oor die grootste deel van Suider-Afrika laat neerdaal.

’n Ernstige probleem het veral in die westelike en suidwestelike somergraanproduksiegebiede ontstaan, aangesien mielies nie betyds geplant kon word nie.

“Dit is veral in die distrikte Hoopstad, Wesselsbron, Bultfontein, Hertzogville, Schweizer-Reneke, Wolmaransstad, Bloemhof, Bloemfontein en kleiner kolle in aangrensende distrikte waar mielies nie geplant kon word nie.” 

Van den Berg sê sonneblomme kan nog geplant word indien reën voor 20 Januarie voorkom. Hitteskade het ook voorgekom by jong, ontkiemende sonneblomme en sojabone.

Verder sê hy dat taamlik ernstige haelskade voorkom wanneer dit reën vanweë betreklik koue bolugtoestande en warm oppervlaktoestande. 

Die meeste damme in die somerreëngebied se watervlak begin vinnig daal weens ’n verhoogde vraag en die warm, winderige toestande.

La Niña duur voortDie swak La Niña-verskynsel behoort volgens Van den Berg tot Maart of April vanjaar voort te duur. “Die swakheid van La Niña, asook die baie laat ontwikkeling in die seisoen, kan verantwoordelik wees vir die heersende swak reënvaltoestande.”   

Hy sê reënvaltoestande kan begin verbeter met enkele buie in die sentrale tot oostelike dele. “Dit wil voorkom of heelwat beter reënvaltoestande in die laaste deel van Januarie en die eerste deel van Februarie in die somerreëngebied kan voorkom.”

“Enkele buie kan tot ongeveer 20 Januarie in die sentrale en veral noordelike dele van Namibië voorkom, maar die kanse verbeter heelwat vanaf die laaste week van Januarie en die eerste deel van Februarie,” aldus Van den Berg.

Winterreën dalk laat
In die winterreëngebied verwag hy baie min reën in die komende maande, met slegs ligte reën in die Suid-Kaap.

“Die waarskynlikheid van ’n laat somerreënseisoen kan ook beteken dat winterreën laat kan begin uitsak in die Wes-Kaap.”