Tydens ’n landbou-vooruitskouing in Centurion het Lemmer opgemerk dat dit dalk nou ’n baie goeie tyd kan wees om in die landbou en landboutegnologie te belê om produktiwiteit en mededingendheid te verbeter.

Hy het in ’n ekonomiese oorsig gesê boere bevind hulle in ’n gunstige groeisektor. “Elke jaar neem die wêreldbevolking met 88 miljoen mense toe. Dit is meer as die bevolking van Duitsland (23 miljoen).”

Hy sê om die beste moontlike voordeel te trek uit uitvoermarkte, moet Suid-Afrika daarteen waak om nie alle landbou-uitvoer en bilaterale ooreenkomste op die wêreld se mees digbevolkte lande te rig nie. Suid-Afrika moet lande identifiseer met die hoogste verwagte groei in bruto binnelandse produk (BBP) per kop teen konstante pryse.

In Asië sluit dit lande soos Mianmar, Indië en Bangladesj in. In Afrika sluit dit Ethiopië, Mosambiek, Rwanda en Tanzanië in.

Nuutste kredietafgradering

Oor Suid-Afrika se jongste gedeeltelike kredietafgradering deur Standard & Poor (S&P) en Moody’s se waarskuwing dat hy sy posisie ten opsigte van Suid-Afrika wil hersien, het Lemmer gesê as dit ’n volle afgradering was, sou die rand met 50c tot 70c verswak het. Meer as R10 miljard sou ook uit Suid-Afrika geneem word. “Soos sake nou staan, het die rand verswak van R13,85 tot R14,10. Vir elk sent wat die rand swakker is, maak dit R3/ton verskil aan die mielieprys en dit skep geleenthede waarvan ’n boer bewus moet wees.”

As Suid-Afrika se ekonomiese groei nie verbeter nie, sal die waarskynlikheid van verdere afgradering toeneem, wat die rand teen ander geldeenhede sal laat verswak. “Die Suid-Afrikaanse landbou is egter hoofsaaklik uitvoergedrewe en sodoende in ’n mate verskans teen die nadelige impak van ’n krediet-afgradering. Om dié rede moet verdere beleggings in die landbou in sulke onstuimige tye nie oor die hoof gesien word nie.”

Wisselkoers verwagtinge

Volgens Lemmer was Absa se raming van die wisselkoers vir volgende jaar R14,40 teen Julie en R14,60 teen Desember. Met die jongste afgradering verwag Absa nou eerder ’n koers van R14,60 in Julie en R14,90 in Desember.

Hy glo netto plaasinkomste en winsmarges sal onder druk bly namate insetkoste en skuldvlakke toeneem, sê Lemmer. Die verwagting is egter dat die landboubedryf beduidend sal herstel ná die algemene verkiesing in 2019.

Oor die weervooruitsigte wat saam met mnr. Johan van den Berg, weerkenner van Santam Landbou gedoen is, sê Lemmer bogemiddelde reënval word tot einde Maart verwag. Dit is ten spyte daarvan dat die seisoen laat is en dit in November nie genoeg gereën het nie.

“Dit lyk of die somerreëngebied ’n natter fase betree, met die sonvleksiklus wat nou baie naby aan ’n onderste draaipunt is. Daar is ook nou ’n groot waarskynlikheid dat ’n La Nina kan ontwikkel. Dit kan lei tot bogemiddelde reënval in die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika, insluitend die westelike dele van die Noord- en Wes-Kaap. Minder reën kan oor die oostelike produksiegebied voorkom.”