Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die landbou het lanklaas so ’n goeie seisoen soos die huidige beleef. Dit wys duidelik in Agbiz en die Nywerheidontwikkelingskorporasie se jongste sakevertroue-indeks, wat in die tweede kwartaal van vanjaar op 75 punte gestaan het, vergeleke met 64 in die vorige kwartaal. Dit is die hoogste punt sedert die indeks in 2001 begin is.

Gunstige toestande vir rekorduitsetvlakke in alle subsektore tesame met hoë internasionale en plaaslike pryse, hoofsaaklik vanweë groeiende vraag uit China en droë toestande in dele van Suid-Amerika, ondersteun die optimistiese sentiment.

Die opname vir die indeks is in die eerste twee weke van Junie gemaak. Die verwagte groot plaaslike oeste het die subindeks oor volume uitvoer met 22 punte tot 78 laat styg, terwyl die subindeks oor kapitaalbeleggings met 23 punte tot 69 gestyg het, die hoogste sedert 2016.

Sentiment oor markaandeel van landboubesighede het met 7 punte tot 78 verbeter, die hoogste vlak sedert die laaste kwartaal van 2016. Dit is gesteun deur ondernemings met bedrywighede verwant aan veldgewasse en finansiële dienste.

Die subindeks oor algemene landboutoestande het met 2 punte gedaal, maar staan op 83, ver bo die neutrale punt van 50. 

Ekonomiese herstel

Die landbou is baie meer optimisties oor die ekonomie. Die subindeks oor ekonomiese toestande het met 39 punte tot 78 gespring, die hoogste vlak sedert die laaste kwartaal in 2011. “Dit strook met die algemene sentiment dat Suid-Afrika nou in herstelmodus is van die ekonomiese skok wat Covid-19 in 2020 veroorsaak het, hoewel algehele ekonomiese bedrywighede nog tot die vlakke van voor die pandemie moet herstel,” sê Sihlobo. 

Werkgeleenthede

Die subindeks oor werkgeleenthede het met 23 punte tot 66 gestyg. Dit is in teenstelling met die onlangse indiensnemingsyfers, wat werksverliese in die landbou in die eerste kwartaal van vanjaar getoon het. Sihlobo sê die verbetering in sentiment skep hoop vir ’n mate van ommekeer in die onlangse verliese in die sektor.

Agbiz monitor die uitwerking van die minimum loon in Maart vanjaar. Met die aankondiging hiervan was daar ongemak in die landbou, veral in die wynbedryf, sê Sihlobo. Dit is juis dié bedryf wat deur kontantvloeiprobleme in die gesig gestaar word weens die verbod op alkoholverkope in verskeie fases van die inperking. 

Goeie jaar

Sihlobo sê Agbiz verwag dat die landbou vanjaar, op ’n jaargrondslag, met 5% kan groei, terwyl ander organisasies groei van tot 7,6% verwag. Dit volg op groei van 13,1% op ’n jaargrondslag verlede jaar.

Gunstige weerstoestande, wat boere in staat gestel het om verskeie gewasse betyds te plant en geplante hektare te vergroot, is die aandrywer van die verwagte groei, terwyl hoër pryse boere se finansies verbeter het, wat sentiment verbeter het.

“Uit ’n produksieperspektief is ons in ’n goeie jaar. Ons hoofbron van kommer is biosekerheidsprobleme in die lewendehawe- en pluimveesektor. Dit moet aandag kry om die gunstige momentum in die landbou vol te hou,” sê Sihlobo.