'n Suid-Afrikaanse wetenskaplike het 'n plaaslike deurbraak in die bekamping van die verwoestende herfs-kommandowurm gemaak deur 'n aalwurmspesie te gebruik om die wurms dood te maak.

Dit sal egter nog 'n paar jaar duur voordat die beplande biologiese bestrydingsmiddel kommersieel beskikbaar sal wees.

Dié deurbraak is gemaak deur dr. Tiarin Ferreira van Pretoria, tegniese bestuurder van Nema Bio. Sy het al minstens een aalwurmspesie getoets wat die herfs-kommandowurms binne 48 uur doodmaak, terwyl twee ander spesies moontlik ook doeltreffend sal wees.

In ander lande, soos Duitsland en Amerika, word aalwurms ook gebruik om insekte te beheer. In Brasilië is nematodes ook gebruik teen die herfs-kommandowurm.

Die betrokke spesie sal ná registrasie in tenks vermeerder word sodat 'n biologiese (lewendige) beheermiddel vervaardig kan word. Dit sal bogronds of ondergronds toegedien kan word. Die middel sal ook vir ander plae gebruik kan word, soos kodling- en valskodlingmot, wat groot verligting vir die Wes-Kaapse vrugteboere sal bring.