Só het mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, op die organisasie se jaarlikse kongres by Nampopark op Bothaville gesê.

Hy het aan Landbou.com gesê dat die aantal graanboere in die land voortdurend afneem, asook die oppervlakte wat beplant word. Die produksie van graan neem terselfdertyd toe omdat boere goeie produksiepraktyke toepas.

Die verbruik van graan neem egter nie in dieselfde tempo toe nie en pryse aan boere bly dus onder druk. “Ons produksie en aantal hektare beplant moet afneem vir die stelsel om in balans te kom sodat pryse tot by uitvoerpariteit kan styg.”

Graan SA is voortdurend besig om nuwe markte vir Suid-Afrikaanse graan te soek. In die afgelope jaar is graan na onder meer Viëtnam uitgevoer, terwyl daar gesprekke met Iran en China gevoer word om graan ook daarheen uit te voer. 

Dié seisoen

Minnaar het gesê die huidige seisoen is moeilik vir graanboere wat reeds onder geldelike druk verkeer weens droogtetoestande wat talle boere al meer as drie jaar teister. Sowat 65% van die meer as 200 somergraanprodusente van reg oor die land wat die kongres bywoon, het tydens ’n stemming aangedui dat hulle dié seisoen laat geplant het.

“Die terugvoer wat ons van produksietoestande kry, is baie wisselvallig. Die meeste boere kort dringend opvolgreën om ’n redelike oes te verseker. Met elke dag sonder reën lyk dinge slegter,” het Minnaar gesê.

Mnr. Jaco Breytenbach, ’n boer van die distrik Fouriesburg in die Oos-Vrystaat, het gesê van sy mielies se koppe begin hang, maar as hy nou reën kry, sal hy ’n oes kan afhaal. 

Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, het gesê in sommige gebiede, soos Arlington in die Oos-Vrystaat, begin van die mielies vrek weens droogteskade.

Droogtehulp

Volgens Minnaar en mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, praat hulle met die staat en die versekeringsektor oor allesomvattende versekeringsprodukte en ’n vroeë waarskuwingstelsel. Daar is egter nie ’n tydlyn vir wanneer sulke hulpmaatreëls kan realiseer nie – veral weens die staat se benarde finansiële situasie.

Minnaar het gesê hulle moedig boere aan om hul eie boerderye te beoordeel en met introspeksie te besluit watter aanpassings hulle moet maak om te oorleef. “Ons weet dat alle praktyke nie vir almal werk nie. Dis hoekom introspeksie noodsaaklik is om te besluit wat op jou plaas gaan werk en wat nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.