Dít is die kernvraag wat die huidige openbare debat oor beweerde ongerymdhede op die mark moet aanpak en dis ’n kwessie wat belanghebbendes in die mark self moet oplos, sê prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom.

Hy het op Graan SA se virtuele jaarkongres gesê daar is ’n persepsie dat die JSE die marktoesighouer is, maar die JSE is ’n private instelling wat termynmarkte bestuur en prysbepaling op die termynmark te doen. “Na my mening kan hy nie belanghebbende én skeidsregter wees nie.”

Willemse se stelling volg te midde van kritiek deur produsente oor die geloofwaardigheid van die graanmark en voortslepende bewerings dat die stelsel uitgebuit word om pryse te manipuleer. Dit was ’n groot besprekingspunt op Graan SA se virtuele streekvergaderings. Die jaarvergadering is ook op die tema van die geloofwaardigheid van die graanmark gestruktureer.

Die organisasie het op sy streekvergaderings beklemtoon dat hy deurentyd met die JSE en ander markdeelnemers in gesprek is om “grys gebiede” te identifiseer en voorstelle doen om dit uit die weg te ruim. Hy het ook ’n onafhanklike platform geskep waar fluitjieblasers ongerymdhede kan aanmeld sodat dit ondersoek kan word, maar volgens hom geen inligting daarop gekry nie.

"Olifant in die kamer"

Tog bly die JSE se termynmark volgens Willemse “die olifant in die kamer” en, reg of verkeerd, is daar heelwat klagtes. “Wat op die oomblik steurend is, is dat baie van die debatte nie regtig op feite gegrond is nie, maar op slegsê en dit gaan ons nie vorentoe vat nie.”

Hy het beklemtoon dat die JSE ’n private onderneming met aandeelhouers is. Die JSE is onderhewig aan finansiële wetgewing, maar hy is in die eerste plek daar om wins te maak vir sy aandeelhouers.

“Safex is nie ’n leweringsmeganisme nie en hy is nie ontwerp om daardie rol te vervul nie. Ek wil dit baie duidelik stel, want dit is waaroor daar baie debat is. Wat die integriteit van die JSE in gedrang bring, is dat slegs 25% van die oes via Safex gelewer word, maar dié 25% bepaal die prys van die ander 75%.”

Dit skep wantroue in die stelsel en verwring streekspryse, het Willemse gesê. Hy het onder meer verwys na die ontevredenheid oor die liggingsdiferensiaal waar produsente al jare lank vra dat dit net van toepassing op Safex-lewerings moet wees.

“Daar is na my mening ruimte vir georganiseerde, alternatiewe markte om geloofwaardige silosertifikate te verhandel wat streeksvraag en aanbod in die pryse weerspieël.”

Die vraag is egter steeds hoe die mark se optrede gereguleer behoort te word.

“Ons het redelike sekerheid oor ons markinligting, ons weet dit werk goed. Maar wat is die mandaat van elke belanghebbende in die mark? En wie hou toesig oor die belanghebbendes,” het hy gevra, maar bygevoeg dat hy allermins ’n voorstaander daarvan is dat die staat hierdie toesigrol moet vervul. “Ons moet self met mekaar praat en kyk hoe kan ons die stelsels beter maak.”

Sy voorstel is die skep van ’n tribunaal of ’n ombudstelsel om oor markinligting en veral belanghebbendes se geloofwaardigheid en die reëls van die spel toesig te hou. Dit moet ook die plek wees waar markdeelnemers kan ooreenkom om oplossings te kry.