Daarom moet die huidige liggingsdifferensiaalstelsel gehandhaaf word vir koring en mielies, en as die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) dit nodig ag, moet dit ook vir sojabone ingestel word.” 

Só begin die samevatting van ’n aanbevelingsverslag wat prof. Matt Roberts, ’n graanmarkkenner van Amerika, oor die liggingsdifferensiaal in Suid-Afrika saamgestel het. Die verslag is op die JSE se kennisgewingdiens gepubliseer.

Roberts het Suid-Afrika vroeër vanjaar op uitnodiging van die JSE besoek om onder meer streekvergaderings van Graan SA by te woon en inligting van graanboere in verskillende streke van die land te kry.

Roberts sê verder in die verslag: “Die teenstand teen die liggingsdifferensiaalstelsel is gegrond op óf ’n foutiewe begrip van die ekonomie van kommoditeitsmarkte, óf ’n onnodige vermenging van die stelsel met die werklike kwessies wat deur ’n gebrek aan deursigtigheid en markkrag in die Suid-Afrikaanse kontantgraanmark daargestel word. Wanneer dié kwessies geskei word, word die besluit duidelik. Die uitskakeling van die liggingsdifferensiaal sal nie deursigtigheid of die markkrag verbeter nie, en dus ook nie die doeltreffendheid van die kontantgraanmark verbeter nie.”

Aanbevelings

In die verslag wys Roberts ook uit dat die meer gereelde bywerk van die liggingsdifferensiaal nie aanbeveel word nie: “. . . om die differensiale op ’n kwartaallikse of halfjaarlikse basis te verander, sal die waarde van ’n termynkontrak verander nadat daardie kontrak begin verhandel het.”

Een aanbeveling wat Roberts spesiaal uitwys, konsentreer op die herinstelling van ’n leweringskontrak vir koring in die Wes-Kaap. In die lig van die hoeveelheid koring wat in die Wes-Kaap geproduseer word teenoor die res van die land, en die ondersoek na ander markte, het dit luidens die verslag duidelik geword dat die instel van so ’n kontrak nie genoeg voordele sal bied om die likiditeit van die huidige Safex-kontrak in dié verband te verdeel nie. “Dus beveel hierdie finale verslag nie die herinstelling van ’n Kaapse koringleweringskontrak aan nie.”

Roberts sê van die aanbevelings in ’n verslag van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) in 2008 behoort toegepas te word. Die aanbevelings hou verband met veranderinge wat die werking van die Suid-Afrikaanse graanmark sal verbeter. Dit sluit onder meer in die vasstel van maniere om inligting en toegang tot inligting in die mark te verbeter. “Die gebrek aan deursigtigheid en mededinging om kontantgewasse is van die groot tekortkominge in die Suid-Afrikaanse mark. Mededinging behoort redelik beperk te bly met die huidige stelsel, maar ’n elektroniese mark – veral een wat deur die JSE ondersteun word – kan help om deursigtigheid in die Suid-Afrikaanse graanmark te verbeter.”

Kommentaar

Luidens ’n brief wat die JSE op sy kennisgewingsblad gepubliseer het, sê dr. Raphael Karuaihe, kommoditeitsbestuurder by die JSE, dat die instelling die verslag bestudeer. Die JSE wil ook ander belanghebbendes die kans bied om die verslag deeglik te bestudeer en te konsulteer met hul lede.

Derhalwe bied hulle die bedryf net meer as ’n maand tyd om kommentaar en aanbevelings op Roberts se verslag in te dien. Die spertyd daarvoor is 1 Julie 2019. Alle aanbevelings of vrae kan gerig word aan die JSE se kommoditeitspan by e-pos commodities@jse.co.za of by 011 520 7039.

Graan SA het aangedui dat hy tans die inhoud van die verslag bestudeer.

Die volledige verslag is hier beskikbaar. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.