Goedkeuring vir die transaksie van R25,2 miljard deur die mededingingstribunaal is nou die laaste stap voor die oorname beklink word.

Die kommissie het Dinsdag gesê die voorgestelde transaksie sal aansienlike voordele vir die land inhou en dit is in die openbare belang. Die transaksie is goedgekeur op voorwaarde dat ’n moratorium geplaas word op afleggings wat spesifiek met die samesmelting verband hou, en dat minstens R1,6 miljard se aandele aan werkers oorgedra word. Verdere voorwaardes sluit onder meer in dat die samesmelting nuwe werkgeleenthede moet skep en dat “beduidende beleggings” in die landbousektor gedoen word. Daar is ook gevra dat ’n fonds geskep word vir die ontwikkeling van klein ondernemings.

Pioneer Foods se aandeelprys is die afgelope aantal jaar onder druk weens moeilike landboutoestande en verbruikers wat swaartrek. Die voedselmaatskappy besit handelsmerke soos Sasko, Weetbix, ProNutro, Heinz, Ceres en Bokomo.

PepsiCo se aanbod van R110 kontant per aandeel in Julie 2019 was sowat 42% hoër as die sluitingsprys van R77,60 per aandeel voordat die voorgenome transaksie bekend gemaak is. Dit sal volgens Reuters ’n regstreekse inspuiting van R25,2 miljard se buitelandse kapitaal beteken. Die verkryging beteken ook dat Pioneer Foods gedenoteer word.

Zeder

Aandeelhouers van die landboubeleggingsmaatskappy Zeder sal ook breed glimlag as die transaksie afgehandel is. Zeder het ’n belang van 28,23% in Pioneer Foods en die PepsiCo-transaksie sal meer as R6 miljard na Zeder laat vloei. Die maatskappy het verlede jaar gesê hy is van voorneme om die meeste van dié kontantinspuiting aan aandeelhouers uit te betaal nadat skuld van sowat R1,5 miljard terugbetaal is.

Ook die beleggingsbeheermaatskappy PSG, wat Zeder begin het, sal voordeel trek uit die PepsiCo-transaksie. Hy is die grootste aandeelhouer in Zeder en Netwerk24 het in 2019 berig dat hy sowat R2 miljard sal kry uit die spesiale dividend wat Zeder beoog om aan sy aandeelhouers uit te keer wanneer die transaksie voltooi is.

Die feit dat PepsiCo, die wêreld se derde grootste voedsel-en-drankmaatskappy, een van sy grootste beleggings buite Amerika in Suid-Afrika maak, wys hoe belangrik hy dit ag om ’n vastrapplek in die groeiende Afrika-mark te kry. Hiermee kry PepsiCo beheer oor Pioneer Foods se bestaande infrastruktuur in Afrika en sy kundigheid oor die vasteland se voedselmarkte. Die transaksie kan verdere ontwikkeling en uitbreiding van markte op die vasteland vir Suid-Afrikaanse produkte beteken.