Die risiko is dalk nie so groot dat ’n grondeis in KwaZulu-Natal mnr. Charl Senekal se groot private projek vir die opwekking van hernubare energie in Pongola in die wiele kan ry nie, soos onlangs in die media berig is.

Hoewel vier gemeenskappe dreig om die projek, wat uiteindelik 16,5 MW uit suikerrietreste gaan opwek, in die wiele te ry as hul grondeise nie spoedig aandag geniet nie, meen Senekal se seun, André, ’n oplossing vir die geskil is in sig.

Die Senekal Boerdery besit meer as 10 000 ha in die noorde van KZN en het sowat 5000 ha suikerriet onder besproeiing.

“Al vier gemeenskappe rondom die stuk grond wat ons vir die aanleg geoormerk het, het reeds grond ontvang uit vorige grondeise. Die huidige struikelblok is nie as gevolg van onwillige partye nie, maar weens onderhandelinge,” sê Senekal.

Die grondeise op die perseel waar die aanleg gebou gaan word, is reeds in 1998 in die Staatskoerant gepubliseer en die staat het twee jaar gelede ’n aanbod aan Senekal Boerdery vir die grond gemaak.

“Daardie aanbod het nie die werklike waarde van die grond weerspieël nie en ons het dit, ná ’n onafhanklike waardering, van die hand gewys,” sê André.

Senekal Boerdery skakel binnekort met die grondeisekommissaris in KwaZulu-Natal en die vier gemeenskappe om die onderhandelinge te probeer finaliseer. “Ons stel voor dat die betrokke gemeenskappe eienaarskap van die grond neem teen ’n billike waarde, dat die kragopwekkingsprojek die grond van hulle huur en dat die gemeenskappe ’n aandeel van 2,5% in die projek ontvang.

“Dit sal beteken dat hierdie gemeenskappe ’n versekerde inkomste uit die huur ontvang. Ons (Senekal Boerdery) reken dit is ’n baie regverdige aanbod,” sê André.

As die onderhandelinge nie suksesvol is nie, sal dit egter nie die einde van die projek beteken nie. “Die projek is in die belang van nasionale kragvoorsiening, werkskepping en vir finansiële groei in die toekoms.

“As ons dit nie op hierdie stuk grond kan doen nie, dan sal ons ’n ander stuk grond probeer identifiseer. Dit sal egter die ontwikkeling van die projek, waarvan die konstruksie reeds in Julie kan begin, aansienlik vertraag.