Só het mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom en hoof van navorsing by die landbousakekamer Agbiz, asook lid van die President se advieskomitee oor grondhervorming, wynboere gepaai tydens Vinpro se inligtingsdag in Kaapstad.

Boere soek sekerheid

“Die wynbedryf sal in die nabye toekoms sowat R13 miljard moet belê om seker te maak (ou) wingerde word herplant, maar voordat boere dit kan doen, het hulle ’n mate van sekerheid nodig.”

Volgens hom is klimaatverandering en grondhervorming twee van die grootste kwessies wat boere se beleggingsvertroue in die bedryf skaad. “Mense kan nou beter voel as toe ons die eerste keer gehoor het daar gaan onteiening sonder vergoeding wees. Ons kry nou eers ’n duidelike idee van wat regtig gaan gebeur en watter grond werklik ter sprake is as ons praat van onteiening sonder vergoeding.”

Hy het beklemtoon dat wydverspreide onteiening sonder vergoeding, wat “agter ieder en elk se grond sal aangaan” nie aan die orde van die dag sal wees nie, maar die klem sal wees op onderbenutte of vakante grond.

Beleidmakers is versigtig. Die nuwe onteieningswet sal derhalwe nie “so radikaal of roekeloos” wees as wat mens vrees nie.

Mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom en hoof van navorsing by die landbousakekamer Agbiz. Foto: VinPro
Mnr. Max du Preez, politieke ontleder. Foto: VinPro

Mnr. Max du Preez, politieke ontleder, meen die grondkwessie gaan nie oor landbougrond nie, maar eerder oor die beskikbare grond in stede. Opnames toon min swart mense sien werklik kans vir die risiko’s wat kommersiële boerdery inhou. Miljoene mense, wat toegang het tot grond in kommunale gebiede, stroom na stede en sowat 1 miljoen ha kommunale grond lê tans braak.

Hy glo die verandering aan die Grondwet gaan “klein” wees. “Dalk net ’n toevoeging dat geen of baie min vergoeding ook moontlik is in gevalle waar onteiening plaasvind. Dit moet vir almal duidelik wees dat daar nooit arbitrêre konfiskering van eiendom sal wees nie. Dis hoogs onwaarskynlik dat enige funksionele boerdery-onderneming ooit afgevat sal word.”

Bedryf moet groei

Volgens Sihlobo is dit vir die Regering belangriker om groei en werkskepping in die sektor aan te help. Herstellende geregtigheid is ’n sekondêre doelwit.

Sihlobo sê hy het begrip daarvoor dat mense verward is, omdat daar verskeie prosesse aan die gang is (soos om ’n nuwe onteieningswet te skryf) en omdat politici uitsprake maak wat nie altyd ooreenstem met die beleid nie.

“As ons egter kyk na die beleidsdokumente wat die ANC skryf, is die party duidelik oor die grond wat hy wil onteien. Ons, op die paneel, dink mooi sodat ons seker maak ons gee voorkeur aan groei in die bedryf.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.