“Dit sal die ekonomie en werkskepping help, want daar is mense wat beleggings terughou, want hulle is bekommerd dat die nuwe wet hul fabrieke sal wegvat,” het mnr. Vali Moosa, ’n oudminister, gesê. 

Moosa, wat ook ’n sentrale rol by die opstel van die Grondwet gespeel het, het hierdie en ander raad vir die komitee gehad. Die komitee roep tans kenners in om hom te help in sy besluitnemingsproses vir die opstel van ’n wysigingswetsontwerp.

Volgens Moosa moet die wysigingswetsontwerp dit ook duidelik stel dat die parlement slegs ’n wysiging rakende grond vir grondhervormingsdoeleindes in die Grondwet wil aanbring, en nie aan ander eiendom en intellektuele eiendom nie.

Artikel 25 (4)(b) van die eindomsklousule dui aan dat “eiendom nie tot grond beperk is nie”. Moosa het gesê dit is van deurslaggewende belang dat dit duidelik na vore kom dat die komitee hom net op grond toespits en nié ander eiendom nie. Verder moet dit duidelik gestel word dat onteiening sonder vergoeding, wat rééds moontlik is, ingevolge die voorstel duidelik in artikel 25 ingeskryf moet word.

Moosa het dit verder benadruk dat swart mense wat plase besit, se eiendom nie ontneem moet word nie.

Oortuigende proses

Dié voorgestelde verandering sal sedert die ontstaan van die Grondwet die eerste aan die Handves van Menseregte wees.

Moosa het gesê die Grondwet stel die minimum vereiste vir die proses wat gevolg moet word om veranderinge aan te bring, maar dat die komitee self hoër vereistes moet instel. 

“Dit is nie in dieselfde klas as om die belasting op ’n pakkie sigarette met 5% te verhoog nie. Die minimum prosedure is waarskynlik nie voldoende nie. Julle sal die proses moet uitdink om die Handves van Menseregte te wysig.” 

Die nasiebou en aanvaarbaarheidsdeel is van die belangrike aspekte wat die proses moet lei. “Wanneer jy aan die ander kant van die wysiging uitkom, moet die mense dit vir die volgende 25 jaar omarm.” 

Die ander rede waarom die proses goed deurdink moet word, is dat voorkom moet word dat die Handves van Menseregte in die toekoms elke drie of vier jaar verander word. “Julle gaan nou ’n voorbeeld stel vir hoe om die Handves van Menseregte te wysig. Stel die regte voorbeeld. Oral ter wêreld het jy vandag populistiese regerings wat allerhande vreemde dinge aanvang en populistiese besluite neem. As so ’n regering in die toekoms die land regeer, moet dit nie vir hom maklik wees om van die sleutel- en waardevolle elemente van die handves weg te vat nie.”

Water

Maar kan grond en water van mekaar geskei word wanneer die wysiging hanteer word, het mnr. Vincent Smith, ANC-LP, aan Moosa gevra. Dit gebeur gereeld dat die staat grond vir hervorming oordra en die waterregte is nie aan die grond verbind nie.

Moosa het gesê daar is nie private eienaarskap van water in die land nie. Gebruiksregte vir water word toegeken en daarom voel hy dis nie nodig dat die grondklousule so verander moet word dat dit water ook insluit nie. 

“Dit is nie ’n kwessie wat deel van jul debat moet wees nie, want dis nie asof die Vaaldam deur ’n private persoon besit word nie. Selfs as ’n private dam gebou word. Byvoorbeeld, as ene mnr. Smith ’n dam op sy plaas bou, dan behoort die dam aan mnr. Smith, maar nie die water nie. Hy kry die reg om water in die dam op te gaar en het gebruiksregte vir ’n spesifieke hoeveelheid water.”

Moenie vrees

Me. Thoko Didiza, voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê dit is duidelik dat Moosa en ander kenners waarsku teen die gevare om ander elemente oop te maak wat tot ontneming kan lei. Soos iemand wat grond geërf het wat meer as 200 jaar gelede bekom is en voordeel getrek het uit apartheidsbeleide, teenoor iemand wat grond verlede jaar teen markwaarde aangekoop het. Al hierdie soort kwessies moet ernstig oorweeg word.

Sy het gesê dat ook ander lande hul grond herstruktureer om die kwaad wat op spesifieke tydstip ervaar word, reg te stel.

Sy het ondersoek ingestel oor wat grondhervorming in ander lande verteenwoordig. Suid-Afrika is nie die enigste land wat met so ’n proses begin het, of die eerste een wat daarna kyk nie. “Daar sal altyd grondhervormingherstrukturering in enige samelewing wees.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.