Volgens Mashele behoort daar in die 21ste eeu nie meer oor sosialisme teenoor kapitalisme geredeneer te word nie, maar moet gekyk word na wat werk.

Hy het gesê as die ANC grond wil herverdeel, moet hy kan sê hoeveel (swart) landboukundiges hy al opgelei het.

“Moenie vir my sê jy wil artikel 25 verander en dan word ons soos Zimbabwe nie. Die mense met grond in hul hande moet die land se demografie weerspieël, maar swart mense speel nie ’n groot rol in dié ruimte nie. Die swart mense wat dit betree, moet egter die vaardighede en kundigheid hê sodat ons nie verhonger nie.”

Kultuurverandering

Hy het dit duidelik gemaak dat hy moed verloor het met pres. Cyril Ramaphosa, veral rakende stappe teen misdadigers. “As hy die oorlog teen misdaad verloor, sal jy nooit die oorlog van die ekonomie wen nie.”

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer vir die Optimum-finansiëledienstegroep, het gesê onder Ramaphosa is daar wel stadig, maar seker ekonomiese vordering, hoewel inwerkingstelling vinniger moet plaasvind.

Dr. Roelof Botha
Dr. Roelof Botha. Foto: Africa Agri Tech
Chris Venter
Mnr. Chris Venter. Foto: Africa Agri Tech

Mnr. Chris Venter, tot onlangs uitvoerende hoof van Afgri Group Holdings, het gesê om die kultuur binne ’n organisasie of regering te verander, is een van die moeilikste dinge om reg te kry en dit kos tyd.

“As ’n mens ’n pessimistiese leier het, vloei dit deur na die organisasie. Om dié kultuur te verander, gaan tyd kos, maar ons moet vinniger verandering sien.”

Venter en mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het albei verwys na die sakegemeenskap se bereidwilligheid om die regering te help.

Venter het gesê die welwillendheid moet omarm word. “Ons moet volhou met gesprekke, want as ons dit nie doen nie, sal ons kinders oor tien jaar ’n probleem hê.”

Uitvoer

Sihlobo het gesê om die landbou se potensiaal te ontsluit, moet daar op lang termyn gedink word en is belegging en die regte infrastruktuur nodig, “maar ons het die politieke wil nodig”.

Groei in die sektor word deur uitvoer aangedryf, met die helfte van produksie wat uitgevoer word. Hy het gesê die aandag moet op die uitbreiding van arbeidsintensiewe uitvoerbedrywe wees sodat ongeskoolde werkloses daar in diens geneem kan word.

Mashele het verskil oor die belangrikheid hiervan en gesê die geskiedenis van wit mense wys hulle was almal arm toe hulle in Suid-Afrika aangekom het, maar dat dit nie die landbou was wat hulle uit hul armoede opgehef het nie.

Wit mense werk volgens hom vandag in gesofistikeerde bedrywe omdat hulle met verloop van tyd in die verbetering van die gehalte van onderwys van hul kinders belê het. “As julle dink landbou is die toekoms van Suid-Afrika, is julle verlore.”

Sihlobo het gereageer deur te sê dit is spesifiek mense sonder goeie vaardighede wat in die landbou werk kan vind, terwyl op lang termyn in onderwys belê moet word.