Só het mnr. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, op Nasie in Gesprek op die 53ste Nampo-oesdag op Nampopark buite Bothaville gesê.

“Dit was hoog op die regering se agenda 25 jaar gelede en dit het intussen ’n saak van groter erns geword. Dit is ’n kwessie wat ons op die een of ander manier sal moet aanpak,” aldus Venter. “Ek meen die Grondwet gaan verander word (ten opsigte van artikel 25 en die onteiening van grond sonder vergoeding), maar dit sal ’n soort van kosmetiese verandering wees.”

Wat grondhervorming betref, het Venter gesê: “Ons kan nie volstruispolitiek speel nie, dit sal gebeur. En ek hou van die welwillendheid wat boere wys oor samewerking om dit te maak werk.”

Mnr. Roelf Meyer, direkteur van die In Transformation Initiative, het gesê pres. Cyril Ramaphosa moet besef die wen van dié verkiesing was die laaste keer dat die ANC die wen van ’n verkiesing as vanselfsprekend kon aanneem. 

Volgens hom is die grootste kwessie in die land, wat vinnig aangepak moet word, die toename in die vlak van ongelykheid in Suid-Afrika. “Ons moet ook die president hou by sy onderneming tot hernuwing van die land se ekonomie en ekonomiese groei, waartoe hy hom voor die verkiesing verbind het.”

Jong mense 

Op ’n vraag uit die gehoor oor hoe om jong mense na stembusse en ook die landbou te lok, het Venter opgemerk dat dit die eerste verkiesing van ’n nuwe generasie was. Hy het gesê vanuit die geskiedenis in Namibië en Zambië kan duidelik gesien word dat die wittebrood van ’n bevolking saam met ’n nuwe regering sowat 25 jaar is.

“Hoe kry ons jong mense by die stembus? Ons jong mense is so in voeling met alles danksy sosiale media dat konvensionele politiek nie hul aandag trek nie.” Venter het gesê daar moet verstaan word dat die maniere om die ouer en jonger generasies te trek totaal verskillend is. “Verwydering tussen jong mense en die politieke bestel is ’n internasionale verskynsel. Jong mense beweeg in ’n ander wêreld en ons moet hulle vra hoe ons hulle kan bereik.”

Dr. Konanani Liphatzi, uitvoerende hoof van Fruit South Africa, het gesê jong mense moet betrek word om ’n strategie saam te stel om hulle te bereik, ook ten opsigte van hul betrokkenheid binne die landbou.

Liphatzi he gesê deelname aan en die uitslag van die afgelope verkiesing het dit duidelik gemaak dat Suid-Afrikaners verskillende behoeftes het, en dat Ramaphosa almal – jonk, oud, man, vrou, ongeag hul ras – moet verenig sodat die land saam in dieselfde rigting kan beweeg. “Ons as lede van die publiek moet die staat verantwoordbaar te hou. Ons kan nie meer insluimer soos wat die afgelope paar jaar die geval was nie.”

Bemagtig gemeenskappe

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, het die hoop uitgespreek dat Ramaphosa en die regering gemeenskappe sal bemagtig om saam te staan om probleme aan te pak. Hy het onder meer verwys na die verskeie werkende grondhervormingsmodelle en -projekte wat verlede Augustus op Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad bespreek is.

“Boere is van die beste bestuurders in die land, kyk net wat hulle elke dag alles moet vermag,” het Burgess gesê. Hy meen as boere die kans gegun word om ’n verskil te maak, kan vennootskappe tussen die privaat en openbare sektore ’n kernrol vervul. 

“Ek sien die staat se rol as een waar ’n bemagtigende regulatoriese omgewing geskep word,” het Burgess gesê. “As jy wil hê grondhervorming moet suksesvol wees, pak dit van distrik tot distrik aan – dit was die rede hoekom die destydse landboukredietraad gewerk het, want dit het van distrik tot distrik gewerk – daar is nie een oplossing wat almal sal pas nie.

“Ons het die (werkende) modelle, ons benodig simpatieke finansiering of sogenoemde sagte lenings. Maak dit vir mense moontlik om in grondhervorming te belê sonder die risiko om die familieplaas te verloor.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.