Elke boer moet dus dink hoe hy hom gaan posisioneer om suksesvol te wees. 

Dié verantwoordelikheid berus nie by ’n organisasie nie, maar by individue, het mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), op dié organisasie se kongres in Bloemfontein gesê.

“Gaan ons terugsit en hoop iemand gaan dit namens ons aanpak of gaan ons konstruktief deelneem om ons toekoms te bepaal?” was sy uitdaging.

Hy het sy besorgdheid uitgespreek dat die ekonomie wankel, terwyl die regering in ’n krisis gedompel is. “Weens die toestand van die ekonomie is daar mense wat die voedsel wat ons produseer, nie kan koop nie. Dis vir ons ’n bron van kommer.”

Oor onteiening sonder vergoeding het Wilken beklemtoon dat VL verbind is tot die “absolute beskerming van eiendomsreg” en dat hy die beginsel van onteiening sonder vergoeding verwerp. Hy het ook ’n beroep gedoen dat die term “grondhervorming” herinterpreteer word om die ontwikkeling van die hele landbousektor in te sluit.

“Die oplossing is nie om te vat by die een en te gee vir die ander nie. Grondhervorming kan nie slaag sonder dat eiendomsreg aan nuwe toetreders gegee word nie. Nêrens ter wêreld het dit gewerk nie.”

Hy het herhaal dat onderbenutte grond en grond wat weens mislukte projekte braak lê, in produksie geplaas moet word. Daar is genoeg produktiewe grond beskikbaar om Suid-Afrika en sy bure te voed.

“Suid van ons is net die see en Antartika, daar is nie meer vlugkans nie. Ons bure van bo is by die miljoene hier in Suid-Afrika, want hier is kos. Ons as Suid-Afrikaanse boere sal die sektor moet uitbou en die mense in hul land van herkoms gaan kos gee.”

VL gee erkenning aan min. Thoko Didiza vir haar bereidwilligheid om die landbousektor se probleme aan te pak, sê Wilken. “Maar ons hoop sy het die ruimte om dit te doen sonder inmenging van faksies wat klaarblyklik ook die president en kabinet gekaap het.”

Veiligheid

Oor landelike veiligheid het Wilken gesê die veiligheid van boere, hul families en werkers is vir VL van deurslaggewende belang en dat hy met die samewerking van die polisie in gemeenskappe ’n basis skep om aanvalle op boere te voorkom.

“Daar is egter baie probleme om ’n veiligheidstruktuur te skep in ’n land waar tot 56 moorde per dag gepleeg word. Dit is reg om druk op die president te plaas oor plaasmoorde en dit doen ons wel, maar ons moet ag slaan daarop dat moorde landwyd gepleeg word.”

Wilken het gepleit dat boere op grondvlak betrokke moet raak en verhoudings met die gemeenskap en wetstoepassers moet bou. “Ongelukkig begin veiligheid by jouself, of jy dit nou wil weet of nie. As jy nie verantwoordelikheid vir jou veiligheid aanvaar nie, kan niemand jou help nie.”

Hy sê dis deurslaggewend dat geverifieerde inligting aan wetstoepassers deugegee word en dat VL op dié terrein baie aktief is deur die werk van dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder. “Die inligting voorkom plaasaanvalle en in baie gevalle word dit van die boer se eie plaaswerkers bekom.”

Hy het verwys na sy eie pa se dood in ’n plaasaanval in 1993 en gesê plaasaanvalle vind reeds oor ’n lang tydperk plaas. “Dit gaan nie ophou as pres. Cyril Ramaphosa of pres. Donald Trump of wie ook al iets sê nie.”

Dra by tot jou gemeenskap

Hy het boere aangemoedig om geleenthede te soek om hul eie gemeenskap te ontwikkel en wys daarop dat inwoners van informele nedersettings net so keelvol is vir swak dienslewering, korrupsie en misdaad.

“Die landelike gemeenskap sal gedra word deur burgers van daardie gemeenskap en ons sal moet mobiliseer as gemeenskap, as mense wat regverdigheid wil sien. Dis hoe ons hierdie land tot ons voordeel gaan verander.”Oor die kwessies wat die georganiseerde landbou op nasionale vlak aanpak, het Wilken gesê dis nie net onteiening sonder vergoeding wat beveg word nie. Daar is ook hofstryde aan die gang oor gaseksplorasie, water, veesiektes, stakings by hawens en wetswysigings wat ’n regstreekse invloed op die boer het.

“Hoe lank gaan ons betaalde lede nog bereid wees om die rekening alleen te dra tot voordeel van almal in waardeketting? Dis tyd dat almal na die tafel kom en dat die koste om in howe te gaan baklei eweredig oor die hele spektrum van die landbou versprei word.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.