Op albei vergaderings het lede van die EFF gesê die grond is met geweld van hul voorouers afgeneem en gevra waarom die diewe nou vir die grond vergoed moet word.

Die stelling dat 87% van Suid-Afrika se grond in wit mense se hande is, terwyl swart mense slegs 13% besit, is ook op albei vergaderings herhaal, saam met eise dat grondbesit die demografie in die land moet weerspieël. Op Queenstown was ’n paar swart sprekers verontwaardig oor die algemene indrukke dat swart boere nie bevoeg is om te boer nie.

Hulle stem nie saam dat voedselsekerheid in gevaar is indien grond aan swart mense gegee sou word nie. Talle swart mense was van mening dat wit mense voorbarig is om te vra dat die voordele wat hulle uit kolonialisme gekry het, beskerm moet word.

WAT VAN DIE GEVOLGE?

Mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, het in sy spreekbeurt op Rustenburg gewaarsku dat veranderinge aan die Grondwet gaan beteken dat die Regering terugkeer na diskriminasie gegrond op ras. “Onthou, jy is altyd vry om te kies, maar nooit vry van die gevolge van jou keuses nie,” het hy gesê.

Aartsbiskop Matosi Musingate, voorsitter van die Lethabong Raad van Kerke, het gesê die raad is gekant teen die beoogde verandering aan die Grondwet.

“Ons kan nie kwaad met kwaad vergeld nie. Die tyd het eerder ryp geword vir elke mens wat homself ’n Christen in Suid-Afrika noem, om hande te neem met die mense om hom om saam ’n oplossing te soek. Om egter grond bloot te onteien, is nie die antwoord nie.”

In Queenstown het mnr. Michael le Grange, ’n melk-en-wolboer van Burgersdorp, gesê Suid-Afrikaanse boere is van die kundigstes ter wêreld, maar “ons het egter nie tot nou die nodige kopskuif gemaak om dit met ons mede-Suid-Afrikaners te deel nie”. Hy meen dit het tyd geword dat Suid-Afrikaners hul arms uitstrek sodat hulle kan regmaak wat verkeerd is.

“En die enigste manier om dit te vermag, is om saam te werk.”

HEENKOME

’n Plaaswerker van Tarkastad het gesê hy en sy familie, wat al die afgelope 26 jaar op ’n plaas woon en werk, sal geen heenkome hê indien plase sonder vergoeding onteien word nie. Hy stel voor dat die Regering met boere moet saamwerk om transformasie te bespoedig.

’n Lid van die Khoisan van Indwe sê sy mense is ongeletterd, maar het inheemse kennis om die grond te kan bewerk en om met vee te boer. Hy sê egter hulle kan nie die grond bewerk nie, aangesien die grond in wit eienaarskap is. Hy sê die Regering het hom en sy gemeenskap in die steek gelaat deur hulle nie met vaardighede te bevoeg nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.