Hoe meer transformasieprojekte die private sektor vrywillig op sy eie kan aanpak, hoe groter sal die druk op die Regering word om hul manier van doen te aanvaar.

Só het mnr. Pierre Venter van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) tydens een van twee Nasie in Gespreksessies by die Nampo-Oesdag oor grondkwessies gesê.

Sprekers was dit eens dat grondhervorming nodig is en verskeie het benadruk begunstigdes moet titelaktes vir grond kry.

Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het gesê die grondbedeling van 1994 het deur politieke inmenging tot stand gekom en nie deur markkragte nie, en dat laasgenoemde dus nie transformasie sal laat gebeur nie.

Banke is bekommerd

Venter gesê banke is bekommerd oor politieke uitsprake dat grond sonder vergoeding onteien gaan word.

Hy het verduidelik dat R145 miljard se banklenings ter sprake is, waarvan R112 miljard by kommersiële banke is en die balans by die Land Bank. Sowat R48 miljard van die totaal is langtermynleners.

“Uiteindelik gaan Suid-Afrika Ingelyf (Inc) die groot verloorder wees” sou daar 'n skok vir die finansiële stelsel wees, soos onteiening sonder vergoeding.

Banke en kommersiële landbou wag al sedert Desember 2015 dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming antwoord hoe hy as vennoot betrokke gaan raak by 30 voorgestelde transformasieprojekte ter waarde van R300 miljoen.

Vennootskappe vir 10 jaar

Möller het gesê vennootskappe tussen swart en wit boere moet vir minstens die volgende dekade die beginpunt wees, sodat grondhervorming ’n ekonomies haalbare proses kan word.

Mnr. Philé van Zyl van ZZ2 het gesê landbouprojekte het ’n lang tydsduur en vir vennootskappe met opkomende boere moet tot 20 jaar toegelaat word. Hy glo ’n vennootskap in ’n eenvoudige bedryf het ’n groter kans op sukses, soos die geval is met ’n projek wat ZZ2 in die wildbedryf aangepak het.

“Die suksesvolle vennootskappe is dié wat nie ingewikkeld is nie.”

Venter het gesê die sektor het baie onsekerhede en dialoog is daarvoor nodig. Gesprekke is ook nodig om begrip te kweek vir hoe die sektor werk.

Kodesa vir grond?

Mnr. Mpumelelo Mkhabela, voormalige redakteur van Sowetan en nou van Ntambose Konsult,  het gesê daar behoort eintlik 'n soort Kodesa oor grond te wees. Hy het gesê dit is nie grond per se wat dreigemente oor onteiening sonder vergoeding aandryf nie, maar die omvang van armoede, ongelykheid en toenemende werkloosheid.

“Ons moet die ekonomiese kwessies oplos en op 'n gedeelde manier groei. Ons weet almal wat in Zimbabwe gebeur het.”

Mkhabela het gesê “die elite-gehoor” by Nasie in Gesprek dink dit is net arm mense wat afhanklik is van die Regering, maar hulle is eintlik self ook afhanklik om beleidsekerheid te kry. Volgens hom moet sakelui 'n leidende rol speel wanneer die Regering faal, soos wat hulle gedoen het toe die Apartheidstelsel onwinsgewend vir hulle geword het. “Ons hoef nie vir die krisis te wag nie. Ons kan ons verbeel hoe dit gaan wees en stappe doen.”