Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, het daarom in ’n verklaring dit duidelik gestel dat die verslag nie deur die hele paneel gesteun word nie.

Die verslag is veronderstel om eers op 24 April aan die Ramaphosa oorhandig te word, maar daar word reeds in die media daaroor berig. Kriek sê hyself en minstens een ander paneellid het geweier om die verslag te onderteken, onder meer oor die kwessie van onteiening sonder vergoeding.

“Ons het ’n minderheidsverslag saamgestel waarin ons ons eie sieninge oor grondhervorming weergee. Dit is gegrond op bewese landboupraktyke en volhoubare ekonomiese groei.” In die minderheidsverslag word dit duidelik gestel watter aanbevelings gesteun of verwerp word.

Kriek sê vyf sleutelaspekte in die minderheidsverslag is aan die paneel voorgelê, maar daar is net oppervlakkig daarna gekyk. Hy het die presidensie in kennis gestel van die minderheidsverslag en die redes daarvoor. “Die president moet in staat gestel word om alternatiewe op te weeg en te besluit wat die beste vir Suid-Afrika is. Die minderheidsverslag is progressief van aard en toegespits op praktiese landboukwessies wat op gesonde verstand berus.”

Hy wou nie op navraag enige verdere besonderhede verskaf nie en sê hy volstaan by die verklaring.

Die verklaring volg nadat die joernalis Max du Preez op die digitale Vrye Weekblad oor verskille binne die paneel berig het.

Hy skryf buiten die instemming met die ANC se eis dat die Grondwet verander word, was daar ook skerp verskille oor onder meer teenstand teen titelaktes in kommunale gebiede, nuwe belasting op landbougrond, ’n sterk voorkeur vir klein- en bestaansboere pleks van kommersiële boere en ’n moratorium op alle plaasuitsettings.

Hy skryf Kriek en die vooraanstaande megaboer mnr. Nick Serfontein het hul besware amptelik laat aanteken.

Die ander paneellede is dr. Vuyo Mahlati, ontwikkelingsbeplanner en voorsitter van die African Farmers’ Association (Afasa), prof. Ruth Hall, senior navorser by die instituut vir armoede, grond en landboustudies (Plaas), prof. Mohammad Karaan, landbou-ekonoom verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, adv. Tembeka Ngcukaitobi, ’n regskenner en skrywer verbonde aan die Regshulpbronsentrum en die Johannesburgse Balie, me. Bulelwa Mabasa, ’n prokureur met 16 jaar ervaring in onder meer grondkwessies, dr. Thandi Ngcobo, uitvoerende hoof en stigter van die Dr. J.L. Dube-instituut aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, en mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom en hoof van navorsing by Agbiz.

Du Preez skryf na wat verneem word, het Karaan en Sihlobo ook ernstige bedenkinge oor aspekte van die verslag uitgespreek. Iemand wat die proses van naby dophou, sê die verslag is ’n oorwinning vir die aktiviste van Plaas.

Die verslag sê grootskaalse onteiening sonder vergoeding en sonder voorwaardes sal in stryd wees met hoofstuk 1 van die Grondwet, die grondliggende bepalings, en sal die kernwaardes van die Grondwet skend.

Hulle het die regsadvies van verskeie grondwetkenners dat die huidige Grondwet voldoende voorsiening vir onteiening maak, by die venster uitgegooi en stel ’n bykomende paragraaf aan artikel 25 van die Grondwet voor wat moet lees: “Die parlement moet wetgewing opstel wat gevalle wat onteiening sonder vergoeding vir die doeleindes van grondhervorming regverdig soos in artikel 25 (8) voorsien word, bepaal.”

Vrye Weekblad berig verder as volg oor die verslag: 

Nuwe Onteieningswet

Die paneel sê dit is “noodsaaklik dat die Grondwet moet uitspel dat daar buitengewone omstandighede is wat onteiening sonder vergoeding regverdig, maar die besonderhede en inhoud moet deur ’n nuwe Onteieningswet beskryf word”.

Dié wet moet die hele vergoedingspektrum uitspel, “wat strek van zero vergoeding tot minimale vergoeding, tot substansiële vergoeding tot by markverwante vergoeding”.

(Die huidige Onteieningswetsontwerp verklaar dat onteiening sonder vergoeding moontlik is waar grond deur woonarbeiders bewoon word; waar die eiendom bloot vir spekulasie besit word; waar grond deur ’n staatsinstelling besit word; grond wat deur die eienaar verlaat is; en waar die markwaarde gelyk aan of kleiner is as die bedrag wat die staat aan die eiendom bestee het.) 

Geen private titelaktes by kommunale grond

’n Omstrede aanbeveling is dat daar geen private titelaktes by kommunale grond moet bestaan nie. Die paneel stel ’n grondregisterwet voor wat burgers wat ongeregistreerde reg op grond het, die geleentheid gee om hul “eiendom” te registreer. Dit sluit inwoners van plakkerkampe, plaasbewoners, huurarbeiders en mense in die ou swart tuislande in.

Die paneel sê daar is tans vyf wetsontwerpe oor kommunale grond wat mekaar weerspreek of irrasioneel is en die ou tuislandstelsel verskans. Die paneel versoek die president om nie dié wetsontwerpe te onderteken voordat ’n witskrif oor die saak gepubliseer is nie.

Een van die redes waarom die ANC nie wou hê dat die paneel se verslag voor die verkiesing gepubliseer moet word nie, is die omstrede aanbeveling oor die Ingonyama-trust, wat ’n derde van alle grond in KwaZulu-Natal (28 000 km2) beheer. Die koning van die Zoeloes is die hoof van ’n beheerraad oor die grond.

Die paneel stel voor dat die wet wat die trust geskep het, herroep en die trust ontbind word, of andersins dat die beheer oor die grond na plaaslike vlak afgewentel word. Dit gaan koning Goodwill Zwelithini en tradisionele Zoeloes baie kwaad maak. 

Moratorium van 2 jaar op plaasuitsettings

Die verslag vra die president om ’n moratorium van twee jaar op alle plaasuitsettings te verklaar en dat alle hangende hofsake daaroor vir eers opgeskort word. Onwettige uitsettings moet tot strafregtelike oortredings verklaar word en die regering moet dringend stappe doen om plaasbewoners se verblyfreg te beskerm en hul reg op grondgebruik uit te brei.

Woonarbeiders (wat op grond gevestig is in ruil vir hul arbeid) behoort voorkeur in die hervormingsplanne te geniet, ook deur onteiening.

Die paneel is duidelik ten gunste van ’n beleidsverskuiwing na die vestiging van kleinboere pleks van swart kommersiële boere. “Die paneel beveel aan dat die grootste deel . . . van die beskikbare begroting vir grondhervorming op vier kategorieë toegespits word – plaasbewoners (farm dwellers), woonarbeiders (labour tenants), bestaansboere en kleinboere wat vir plaaslike markte produseer.”

Die verslag is minder voorskriftelik oor stedelike grond, maar vra dat die staat sy perspektief verander en munisipaliteite ondersteun om “op inklusiewe en demokratiese wyse saam te werk met maatskaplike bewegings en organisasies wat die grondloses, haweloses en agterplaas- en hutbewoners verteenwoordig”. Mense met HOP-huise en diegene in plakkerkampe se eiendom moet geregistreer word en hulle moet bewys van verblyfreg ontvang. 

Teelaarde vir korrupsie

Die verslag waarsku dat grondhervorming ’n teelaarde vir korrupsie en bevoordeling van die elite kan wees en maak voorstelle oor hoe die behoefte aan grond bepaal moet word – wie wil watter grond waar hê en vir watter doeleindes.

Die paneel bied verskeie voorstelle oor die jurisdiksie van bestaande staatsdepartemente wat moet verander, en vir die daarstelling van ’n grond- en landbouhervormingsagentskap wat alle hervorming moet koördineer, vir nuwe oudits van stedelike en landbougrond en vir nuwe wetgewing om dit alles tot stand te bring.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.