Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, sê in ’n verklaring boere is onder druk weens beleidsonsekerheid en die uitwerking van misdaad en droogte. “Dit is kommerwekkend dat hy niks genoem het oor die erge en voortslepende droogte wat verskeie provinsies raak nie, en geen melding van die toenemende geweldsmisdaad in landelike gebiede gemaak het nie,” sê Kriek. “Die President moet aan die sektor die ondersteuning gee om volhoubaar te kan wees.”

Agri SA wil Ramaphosa se stelling dat dit elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid is om vooruitgang te verseker, beklemtoon en die organisasie verbind hom daartoe. 

“Die President se verbintenis om die Suid-Afrikaanse skip uit moeilike waters te stuur kan geprys word,” sê Kriek. “Dié staatsrede moet gesien word teen die agtergrond van grootskaalse korrupsie, ’n verswakte ekonomie, die aftakeling van instellings en die haglike toestand van semi-staatsinstellings soos Eskom wat Suid-Afrika jare lank gekenmerk het. Dit is nou tyd om hande te vat en saam te werk.

“Ramaphosa het wel erkenning aan die landbousektor gegee en die waardevolle bydrae wat dit tot die ekonomie lewer. Hy sê dié sektor is goed ontwikkel, veerkragtig en gediversifiseerd – en dat dit as ’n basis kan dien om die landbou en die ekonomie te laat groei.”

Kriek beklemtoon dat die opbou en herstel van die ekonomie nóú op die voorgrond geplaas moet word.

“Ons moet beleidsekerheid hê om sodoende beleggers na ons sektor en Suid-Afrika te lok. Agri SA is verbind tot landbou-ontwikkeling en -hervorming, en sal voortgaan om hom vir ’n volhoubare landbousektor te beywer. Agri SA versoek opnuut die President en die Suid-Afrikaanse Regering om beleidsekerheid oor kwellende kwessies te gee, wat insluit onteiening sonder vergoeding en droogtehulp. Só kan ons almal saam voedselsekerheid en vooruitgang vir alle Suid-Afrikaners verseker.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.