Mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die prentjie in Suid-Afrika het drasties verander sedert die wet wat die onderverdeling van plase verbied, in 1970 ingestel is. Omset of die vlak van netto plaasinkomste behoort deesdae die kriteria te wees.

“Byvoorbeeld: Een hektaar grond langs ’n stad waarop groente en kruie onder besproeiing verbou kan word, het ’n veel hoër produksievermoë as 500 ha grond in die Karoo.”

Sy kommentaar volg op ’n onlangse artikel deur prof. Ben Cousins van die Universiteit van die Wes-Kaap se instituut vir armoede-, grond- en landboustudies (Plaas) in die dagblad Business Day. Daarin kritiseer Cousins die voorstanders van individuele titelaktes vir alle grondeienaars. Hy skryf dit is nie die volledige antwoord om Suid-Afrika se grondbesit-kwessie op te los nie.

Cousins verwys na lande soos Kenia waar die instel van individuele titelaktes vir almal, wat al in die 1950’s begin is en nog nie afgehandel is nie, veroorsaak het dat talle arm mense op kommunale grond hul grond verloor het deurdat dit op noodveilings verkoop is, en dikwels aan stedelinge wat grond vir eiendom-spekulasie aangeskaf het.

Sihlobo sê die toenemende behoefte om landelike ekonomiese aktiwiteit met landbou-ontwikkeling aan te wakker, het opnuut die debat oor plaasgrootte op die voorgrond geplaas. Die vraag is of so veel as moontlik klein plase gevestig moet word om gemeenskappe te bevoordeel.

Toe die 1970-wet ingestel is, is familieplase as ’n gebruik onderverdeel sodat al die kinders van die boer ’n deel kon erf. Die eertydse regering was bekommerd dat dít ’n netwerk van boerderye sou skep wat nie ekonomies volhoubaar is nie.

Die volhoubaarheid van ’n boerdery is gemeet aan die salaris van ’n gemiddelde staatsamptenaar. Plase wat te klein was om daardie inkomste te lewer, is as ekonomies onvolhoubaar beskou.

Die afgelope paar weke word egter opnuut gevra wat as ’n lewensvatbare inkomste uit ’n boerdery beskou behoort te word, en wie as ’n kleinboer geklassifiseer behoort te word.

Die feit dat Suid-Afrika nie ’n sterk kleinboer-sektor het nie, sê Sihlobo, dra by tot die skeptisisme en verwarring oor hierdie soort boerdery. Daarom word boere in die voormalige tuislande, wat op een hektaar of minder droëland boer, tipies as kleinboere beskou.

Hy meen dit is nie ’n goeie maatstaf om ’n kleinboerdery te meet nie; omset en produksie moet eerder in ag geneem word, pleks van hektare.

Hy wys voorts daarop dat sowat 45% van alle kommersiële boerderye in Suid-Afrika volgens amptelike statistieke op kleinskaalse familieplase bedryf word, met ’n netto boerdery-inkomste van minder as R500 000, skaars genoeg om ’n voltydse lewensbestaan uit te maak.

’n Kleinboer is dus ’n relatiewe konsep, relatief tot die spesifieke ekologiese streek, grondgehalte en landboubedryf waarin hy hom bevind, sê Sihlobo.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.