Die beraad vind op 23 en 24 Augustus by Wildswinkel se veilingslokaal buite Bela-Bela in Limpopo plaas. Oor die volgende paar weke sal ons meer inligting gee oor van die sprekers. 

Transformasie skep geleenthede

Danksy sy betrokkenheid by bemagtigingsprojekte het Die Kooperasie op Humansdorp nie net die gemeenskap gehelp bou nie, maar ook nuwe sakegeleenthede ontgin.

Mnr. Henk Agenbach, uitvoerende hoof van Die Kooperasie, sal in sy spreukbeurt onder meer klem lê op die feit dat transformasie aan die onderneming die kans bied om ’n leidende rol te speel in die transformasie van landbouprojekte en die breër gemeenskap.

Mnr. Henk Agenbach.

“Deur ons bemagtigingsaksie, waar ons by boerderye betrokke geraak het, het ons baie nuwe besigheid gekry. Dié geleenthede het gekom deur vertroue,” sê Agenbach oor Die Kooperasie. “Dit gaan nie net oor die oordrag van wit na swart nie, maar dit gaan oor ontwikkeling. Transformasie moet gebeur deur nuwe geleenthede saam aan te pak.” 

Goeie besigheid altyd ’n wen-wen

Mnr. Milaan Thalwitzer staan aan die hoof van Komati Fruits, die grootste private sitrusuitvoerder in Suid-Afrika. Hy en sy skoonseuns rehabiliteer ook resitusieplase en hy gaan sy kennis en ondervinding op die beraad bespreek.

Mnr. Milaan Thalwitzer

“Oom Milaan glo vas dat goeie besigheid altyd ’n wen-wen vir albei partye moet wees, of dit Britse uitvoerders of plaaslike begunstigdes van grondhervorming is. Dit is besonders,” skryf Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, oor Thalwitzer.

‘Almal moet huself kan bewys’

Me. Judy Stuart is die hoof en stigter van die Future Farmers-stigting. Dié stigting, wat al 12 jaar bestaan, het deur middel van vernuwende en grensverskuiwende opleiding 150 behoeftige kinders en aspirantboere gehelp ontwikkel tot topbestuurders op kommersiële plase.

Me. Judy Stuart

Stewart sê studente moet in moeilike tye vasbyt en hul eie bevordering bewerkstellig.

“Dit is ’n goeie proses en die kaf word vinnig van die koring geskei. Dít is waarom daar soveel talentvolle, sterk leiers vol selfvertroue is. Hulle het niks verniet gekry nie. Ons het hulle net gehelp met die geleentheid om hulself te bewys en ’n pad in die landbou oop te kap.” 

Stamhoofde, stamleiers en gemeenskap boer saam

Me. Gloria Serobe, stigter en uitvoerende direkteur van die beleggingsmaatskappy Wiphold, het ’n suksesvolle saaiboerdery met kommersiële opbrengste van droëlandmielies en -sojabone op kommunale grond by Centani in die voormalige Transkei op die been gebring. Sy sal op die beraad verduidelik hoe hulle ná jare se samesprekings met 45 hoofmanne, stamleiers en duisende gemeenskapslede kommersieel kan boer.

Me. Gloria Serobe

“Met ’n Afrikanerboer en Zimbabwiese grondkundige aan die stuur van landboubedrywighede word daar vandag sowat 2 000 ha mielies en sojabone geplant, met mielie-opbrengste van sowat 10 ton/ha. Dit is ’n verstommende prestasie wat in ’n groot mate bereik is deur Wiphold se bereidwilligheid om enigiemand wat nie sy of haar kant bring nie, uit die projek te skop,” skryf Burgess oor Serobe.

Goeie salarisse, klein dividende gee projek stukrag

Me. Leona Davids is ’n direkteur van Agri Dwala, ’n voorloper-bemagtigingsprojek in die Overberg, wat deur die saaiboer Kosie van Zyl op die been gebring is. Die projek het sy tiende bestaansjaar in 2017 afgesluit met sy beste oes tot nog toe. Die aandeelhouers kon hul jare lange mentors se aandele koop én hulle is nou self mentors vir ’n groep nuwe boere. Die projek se gastehuis en onthaallokaal is ook gewild.

Me. Leona Davids
Mnr. Kosie van Zyl

Volgens Davids vorm goeie administrasie en finansiële dissipline die hoeksteen van hul boerdery. “Ons wil aandeelhouers aanmoedig om liewer op die plaas te kom werk om geld te kry as om vir ’n dividend te sit en wag,” sê Davids.

“Jy moet dit doen omdat jy dit wíl doen, nie omdat die Regering sê jy móét dit doen nie. Dit werk ook as dit oor die groter saak gaan en jy dit doen om mense se potensiaal te ontsluit,” sê Van Zyl.

Davids en Van Zyl sal albei sprekers op die beraad wees.

Hier is nog van die sprekers wat jy by die beraad kan sien. 

Kliek hier om jou plek by die beraad te bespreek. 

NAVRAE

Stuur e-pos aan jacolette.kloppers@landbou.com

MEDIA-AKKREDITASIE

Rig versoeke aan jacolette.kloppers@landbou.com

BORGE

MacRobert Attorneys

Senwes

Standard Bank

Obaro