“ Mnr. Andries Pienaar, die boer en ’n lid van Vrystaat Landbou, het vanoggende ’n tweede klag van betreding by die polisie ingedien,” sê mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van Vrystaat Landbou.

Volgens Esterhuyse is dit ’n kleiner groep as wat Maandag die plaas beset het. “Die polisie het laat Maandagmiddag skokgranate en rubberkoeëls gebruik om die grondbesetters wat nie die plaas wou verlaat nie, te verjaag.”

Esterhuyse sê die polisie is op die toneel en die situasie is onder beheer.

Strafregtelike klag

Mnr. Wouter Wessels, Vryheidsfront Plus-lid van die Vrystaat se wetgewer, het Dinsdag ’n strafregtelike klag ingedien teen die ANC-raadslid mnr. Sephiri Lephoko, wat glo die gemeenskap aangemoedig het om die plaas te beset. Lephoko het gemeenskapslede glo Sondag op ’n vergadering aangemoedig om die grond naby die informele nedersetting Meloding te beset.

Luidens ’n verklaring sê Wessels die klag is ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste (Wet 17 van 1956) ingedien. Lephoko se beweerde uitsprake het tot gevolg gehad dat sowat 1 000 lede van die gemeenskap Maandag die grond beset het.

Sowat 300 ha van die plaas is afgebrand nadat lede van die gemeenskap na bewering brande gestig het om glo rotte en slange te verjaag sodat hulle huise op die grond kan bou.

“Dit is uiters onverantwoordelik en onaanvaarbaar van ’n raadslid en ’n politieke party om enigiemand aan te moedig om misdaad te pleeg.  Die gevolge van die roekelose uitsprake van pres. Cyril Ramaphosa en die ANC moet dringend in die kiem gesmoor word,” sê Wessels.

Behuisingskrisis

Wessels sê grondbesettings, soos by Virginia en Wesselsbron die afgelope twee weke, hou uiters skadelike gevolge in vir die landbousektor en uiteindelik die ekonomie van Suid-Afrika. “Die onsekerheid wat in landboukringe geskep word, het ’n regstreekse impak op produktiwiteit, voedselsekerheid en werksgeleenthede.

“Die werklike probleem is ’n behuisingkrisis wat voor die deur gelê kan word van die Regering se onvermoë om in die basiese behoeftes van Suid-Afrikaners te voorsien.”

Esterhuyse sê hulle bly deur middel van Vrystaat Landbou se veiligheidsnetwerke deurentyd op hoogte van gebeure in die omgewing.