Die EFF en die MRK se oorspronklike aansoek teen die Stad Kaapstad, me. Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiekommissaris word ook op dié dae aangehoor.

Die EFF en die MRK het op 26 Augustus ’n tussentydse interdik bekom wat bepaal dat die Stad Kaapstad se teenbesettingseenheid nie mense uit hul huise mag sit of strukture vernietig terwyl die staat van inperking van krag is nie. AfriForum is teen dié aansoek gekant.

AfriForum se aansoek om as vriend van die hof gevoeg te word, beoog om die gemeenregtelike remedies van contra-spolie ongeldig en ongrondwetlik te laat verklaar in soverre dit voorsiening maak vir die sloop van sowel bewoonde as onbewoonde wonings.

AfriForum sal in die hof aanvoer dat die bepalings van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (Wet 19 van 1998) slegs in werking tree wanneer grond onwettig beset is en die besetters permanent op die grond woon. Die gewone gemeenregtelike oplossings moet dus steeds geld in gevalle waar onwettige strukture in die proses is om opgerig te word of waar dié strukture nog nie bewoon word nie.