Die grondeis het vroeg in 2015 begin opslae maak aangesien duisende mense se eiendomsreg en eiendomswaarde, en Pretoria se ekonomie, op die spel geplaas is. Luidens ’n mediaverklaring van AfriSake het navorsing daarop gedui dat die eis ongegrond was, waarna AfriSake en AfriForum in September namens 800 sakelui en grondeienaars regstappe gedoen het om die eis ter syde te laat stel.

In die Staatskoerant van 27 November 2015 (nr. 39458) is die grondeis van mnr. V. Lekhuleni op groot dele van Pretoria-Oos, Derdepoort ewn Cullinan, gederegistreer, formeel van die hand gewys, sê AfriSake.

In terme van kennisgewing 1184 van 2015, “is daar nou ’n finale 60 dae toegelaat waartydens nuwe inligting aanvaar sal word om dit ’n geldige eis te maak. Die Grondeisekommissaris is egter op hierdie stadium van mening dat dit geen geldige eis is nie, en as daar dus geen nuwe getuienis ingewin word in hierdie vensterperiode nie, sal die eis verval en gederegistreer word,” sê die TLU SA in ’n mediaverklaring. Mnr. Wannie Scribante, voorsitter van TLU SA se sentraal-streek, het dié verwikkeling verwelkom.

AfriSake sê die deregistrasie van die grondeis in die ooste van Pretoria is ’n oorwinning vir eiendomsreg in Suid-Afrika. “Indien ons nie opgestaan het nie, sou daar potensieel miljarde rande se belastinggeld aan die Lekhuleni-gemeenskap oorbetaal moes word. Dit onderstreep die rol en impak van georganiseerde burgerlike instellings wat hul vir sake- en burgerregte beywer,” sê mnr Cornelius Jansen van Rensburg, AfriSake se uitvoerende hoof.

Die Zwavelpoort-grondeis is nog hangend en AfriSake beoog om in dié en ander gevalle voort te gaan om grondeienaars se regte te beskerm.