Die persentasie restitusie-begunstigdes wie se fisiese grondregte herstel word, is waarskynlik veel meer as diegene wat eerder harde kontant verkies.

Die Kommissie vir die Herstel van Grondregte wil ondersoek instel na die bewering wat pres. Jacob Zuma en mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, maak dat begunstigdes eerder hulle oog op geldelike vergoeding het as op grond.

Dit kom nadat die Regering voorheen aangedui het dat aansoekers in meer as 90% van die eise wat deurgevoer word, geldelike vergoeding verkies is.

Nkwinti het verlede jaar ook aangedui dat dit blyk dat die neiging voortduur, met 94% van die 143 720 voornemende nuwe eisers wat reeds aangedui het dat hulle finansiële vergoeding wil hê.

Interpretasie verskil

Me. Nomfundo Gobodo, hoof-grondeisekommissaris, het aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming uitgewys dat die kwessie van grond teenoor vergoeding verkeerd geïnterpreteer word.

Sy het verduidelik dat die kommissie byvoorbeeld baie stedelike eise in die Wes-Kaap herstel wat in gevalle van 'n huurarbeider kan wees wat geldelike vergoeding vir 60 vierkante meter eis. 'n Ander landelike gemeenskap (met heelwat meer begunstigdes) in Mpumalanga se eis kan 54 plase wees.

“Ons sal aan die interpretasie van die 90% moet werk, want dit is nie duidelik nie.”

"Dit is waar dat 90% van die hoeveelheid eise deur finansiële vergoeding afgehandel word. Maar wanneer jy kyk na die hoeveelheid hektare wat vir een gemeenskap in 'n landelike eis bekom word, teenoor die hoeveelheid geldelike vergoedings in 'n stedelike gebied, kom jy agter dat die vergelyking van finansiële vegoeding teenoor die herstel van grond nie akkuraat reflekteer word nie," het sy verduidelik.

Het al sy teikens bereik

Die kommissie het in die vierde kwartaal van die 2016/’17-geldjaar, wat vanaf 1 Januarie 2017 tot 31 Maart 2017 strek, al sy teikens bereik.

Instede om net te voldoen aan sy teiken om 150 eise af te handel in die kwartaal, het hy 382 afgehandel, 357 eise van die geteikende 118 gefinaliseer en 610 ou eise van die geteikende 389 nagevors.

Die navorsing van alle eise in die Noord-Kaap, Vrystaat en die Noordwes is ook voltooi.