Afra, ’n organisasie vir landelike bevordering wat die huurarbeiders bystaan, en die Regshulpsentrum het op 23 Mei argumente hieroor in die hof aangevoer.

Die Grondeisehof het in 2016 beveel dat so ’n meester aangestel moet word. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het dit egter op appèl geneem en die appèlhof het die beslissing verlede jaar tersyde gestel.

Afra en die Regshulpsentrum het hulle toe na die Grondwethof gewend, waar die saak op 23 Mei aangehoor en uitspraak voorbehou is.

Die twee organisasies het reeds in 2013 ’n klasaksie namens huurarbeiders begin om die departement te dwing om die eise af te handel.

Daar is volgens Afra steeds sowat 11 000 eise uitstaande wat voor die sluitingsdatum in 2001 ingedien is.

Die departement het volgens die organisasie sedert 2013 verskeie sperdatums wat die Grondeisehof gestel het, nie nagekom nie.

Buitengewone hoftoesig

Me. Nokuthula Mthimunye van Afra se kommunikasie-afdeling sê die organisasie en die Regshulpraad het op 23 Mei aangevoer dat gespesialiseerde en buitengewone hoftoesig nodig is om die doeltreffende verwerking van die huurarbeiders se eise te verseker, omdat die departement op ’n stelselvlak hiermee misluk.

“Ons is vol vertroue dat die Grondwethof in ons guns gaan beslis rakende ’n spesiale meester wat as ’n onafhanklike monitor kan dien,” sê Mthimunye.

Dit was volgens haar vir Afra goed om te hoor hoe die hof praat oor die tyd wat verloop het sedert die verordening van die Wet op Grondhervorming (Huurarbeiders) (Wet 3 van 1996)  en hoe dit eisers wat van 1996 tot 2001 eise ingedien het, benadeel het.

“Opmerkings wat regters in die verhoor gemaak het, dui daarop dat ’n onafhanklike moniteringsmeganisme nodig is om die hof te help om te verseker dat ’n program vir huurarbeiders doeltreffend en spoedig in werking gestel word.

“Dit is goeie nuus vir huurarbeider-eisers reg oor die land,” sê Mthimunye.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.