Trengove het hierdie voorstel gemaak aan die parlement se ad hoc-komitee wat gelas is om die wysigingswetsontwerp oor onteiening sonder vergoeding in die Grondwet op te stel. Die komitee het kenners genader om hom raad te gee oor hoe die grondwetwysing daar moet uitsien.

Die vraag oor wie die land se grond besit, is ’n tameletjie wat nog nie na wens uitgepluis kon word nie, hoewel verskeie staatsoudits reeds die lig gesien het. Trengove het gevra wie die las moet dra om te bewys dat ’n eiendom weens koloniale bevoorregting bekom is wanneer die geskiedenis onbekend en onduidelik is. “Ons geskiedenis maak dit duidelik dat ons as wit mense oor jare heen altyd bevoorreg is deur die rassebedeling. Ek meen ’n veronderstelling van bevoorregting is ’n realistiese en geskiedkundig geregverdigde veronderstelling totdat die teendeel bewys word.”

Hy as die feite bekend is en die teendeel kan bewys word, “dan is dit gaaf en goed. Maar as die feite onduidelik is, dan meen ek daar is ’n rasionele basis vir ’n veronderstelling dat wit mense bevoordeel is deur kolonialisme en apartheid.”

Hy het benadruk dat wit mense die bewyslas moet dra, want histories gesproke is hulle bevoorreg deur rassisme.

Gesteelde grond

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër benadruk dat grond nie net ontneem is nie, maar dat van die grond gesteel is en dat onteiening sonder vergoeding sal plaasvind.

Hierdie uitlating van Ramaphosa het gekom nadat mnr. Mmusi Maimane, leier van die DA, hom daarvan beskuldig het dat hy ’n verwaterde weergawe aan buitelanders voorhou oor onteiening sonder vergoeding.

Die VF Plus wil nou van Ramaphosa weet of hy enige bewys kan lewer oor sodanige grond wat in Suid-Afrika gesteel is. Ook of hy kan sê deur wie dit gesteel is en waar en wanneer dit gesteel is.

“As die president enige bewyse vir hierdie uiters gevaarlike stelling het, wil die VF Plus vra waarom daar nie ’n klag van diefstal by die polisie aanhangig gemaak word teen die skuldige party of partye nie?”

TLU SA het R100 000 as beloning aanbied aan enigiemand wat kan bewys dat boere grond in Suid-Afrika gesteel het. Daar was sover bekend nog geen reaksie op hierdie beloning nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê dit is teleurstellend en kommerwekkend dat die president hom deur die EFF laat lei oor die grondkwessie deur eers onteiening sonder vergoeding as beleid te aanvaar, terwyl hy nou ook die narratief oor grond wat gesteel is, herhaal.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.