Dit was een van die antwoorde adj.pres. David Mabuza tydens vraetyd in die Nasionale Vergadering oor die kwessie van grondhervorming en onteiening sonder vergoeding gegee het. 

Mabuza staan aan die hoof van die interministeriële komitee wat na grondhervorming kyk. Pres. Cyril Ramaphosa het in September ’n raadgewende komitee aangestel wat Mabuza en sy span bystaan om die beste opsies vir grondhervorming uit te pluis.

Die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee sal volgens beplanning op Dinsdag 27 November sy voorstel dat onteiening sonder vergoeding duidelik in die Grondwet geskryf moet word, in die Nasionale Vergadering ter tafel lê. As hierdie voorstel deur die Parlement aanvaar word, sal Parlement ’n komitee moet las om ’n wysigingswetsontwerp te bewoord wat artikel 25 van die Grondwet kan wysig, waarna dié wetsontwerp deur verskeie openbare prosesse sal moet gaan. 

Ongunstige persepsie

Mnr. Shaik Emam, NFP-LP, het aan Mabuza gesê dat ’n persepsie bestaan dat grondhervorming ’n nadelige impak op voedselsekerheid gaan hê. Hy wou weet watter meganismes sal toegepas word om te verseker dat begunstigdes van grondhervorming grond produktief gebruik.

Mabuza het gesê Ramaphosa het al verskeie kere vrese probeer besweer deur te benadruk dat grondhervorming op ’n ordelike manier gedoen sal word en dat grondvergrype nie toegelaat sal word nie.

Hy het verduidelik dat die Regering die grondhervormingsprogram sien as een waar nuwe toetreders toegang tot die sektor gebied kan word om so ook voedselproduksie te verhoog. “In ’n situasie waar ons ekonomie nie goed is nie, is dit nie wys om die klein bietjie wat werk te vernietig nie. Jy moet dit eerder verbeter.”

Ondersteuningsentra

Mabuza het gesê die Regering sal hierdie keer nie net ’n toeskouer wees wanneer grond aan begunstigdes gegee word nie en het aangekondig dat streeks-ondersteuningsdienste vir nuwe boere daargestel sal word. Munisipaliteite en die provinsies sal ’n groot rol daarin speel, sodat ondersteuning aan boere goed gekoördineerd kan wees.

Die ondersteuning wat gebied gaan word sluit onder meer in die nodige produksie insette asook die monitering van die boere tot op die punt waar hulle kommersiële boere word en dus op hulle eie voete kan staan.

Hy het ook benadruk dat dit nie reg is dat mense grond eis en dan niks met dit doen nie. “Dit is belangrik om elke eis te evalueer. Dis nie reg dat mense grond eis en net rondlê daarop nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.