Prof. Johann Kirsten van die Universiteit Stellenbosch (US) het op ’n konferensie oor herverdeling by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gesê mense met belangstelling, kundigheid, grond en rykdom kan dit tot dié instrumente bydra, en diegene wat geld, grond en kennis nodig het, kan daaruit onttrek.

Die doel van sy en prof. Nick Vink van die US se voorstel is om aan beleggers te wys dat grondhervorming kan plaasvind met ’n minimale ongunstige uitwerking op die ekonomie. “Dit sal gedoen word deur mense wat die meeste deur die vorige bedeling bevoordeel is, ’n geleentheid te gee om ’n bydrae te lewer, of hulle boer of grond besit of nie.”

Mense wat tot die fonds en grondbewaarplek bydra, sal volgens Vink en Kirsten se voorstel kan aanspraak maak op vergunnings, soos waterregte, kapitaal of voorkeurtoegang tot markte, of ’n opbrengs verdien op die geld wat hulle in die fonds belê.

Verdeeldheid

Prof. Ruth Hall van die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies (Plaas) aan die UWK het ná die konferensie tydens ’n inligtingsessie vir die media gesê hulle verwag dat dit ’n uitgerekte proses gaan wees om oplossings vir die grondkwessie te kry. Om dié rede was die konferensie ’n poging om ’n nasionale gesprek aan die gang te sit.

“Die grondkwessie is besig om ons te polariseer. Daar is konserwatiewe groepe wat gekant is teen die herverdeling van grond, en populistiese politici wat meen alle grond moet gevat en genasionaliseer word.

“Ons probeer om ’n konstruktiewe posisie tussen hierdie twee te kry.”

Die vrae waarop die konferensie antwoorde gesoek het, is wie die begunstigdes van grondherverdeling moet wees, hoe grond vir herverdeling geïdentifiseer, bekom en oorgedra moet word, watter regte bevoordeeldes op die herverdeelde grond moet hê, hoe en deur wie begunstigdes ondersteun moet word, en hoe ’n suksesvolle grondhervormingsprogram moet lyk.

Hoewel mnr. Mazibuko Jara, direkteur van Ntinga Ntaba ka-Ndoda, ’n gemeenskapsorganisasie in die Oos-Kaap, nie wil hê sy voorstel moet ’n radikale etiket kry nie, het hy voorgestel dat ’n solidariteitsekonomie die bestaande ekonomiese stelsel moet vervang en dat ekonomiese herlewing in die landelike gebiede moet plaasvind. So ’n ekonomie en herlewing sal koöperasies en ekologies volhoubare produksiestelsels insluit.

Die mense wat deur sy voorstel bevoordeel moet word, sluit  werklose mense, plaaswerkers, plaasbewoners, kleinboere, inwoners van informele nedersettings, townships en stede in.

“Grondhervorming moenie as ’n geleentheid beskou word om grondhervorming net tot voordeel van swart kapitaliste te laat plaasvind nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.