Dít was die mening van talle kenners op ’n onlangse grondberaad by die Universiteit van die Vrystaat. 

‘Onsinnig en gevaarlik’

Prof. Danie Brand meen die huidige rigting wat die debat oor grondhervorming inslaan, verwater die hele kwessie tot een vraag: Of die Grondwet verander moet word om die onteiening van eiendom sonder vergoeding moontlik te maak.

“Om dié vraag te vra, is nie net onsin nie, maar dit is gevaarlik. Dit bedek eintlik die werklike probleem van grondbesit in Suid-Afrika. “Die Grondwet laat wél onteiening sonder vergoeding op verskeie maniere toe.”

Brand sê ook dit beteken iemand oefen steeds absolute beheer oor grondbesit uit: óf ’n private eienaar óf die staat, ten koste van ander mense wat die grond ook moet gebruik.

Volgens prof. Peter Delius van die Universiteit van die Witwatersrand neem die grondhervormingsproses krisisafmetings aan, want onafgehandelde grondeise wat van 1994 tot 1998 ingedien is, sal sowat 43 jaar duur om af te handel.

Die sowat 166 000 nuwe eise wat ná 2014 ingedien is, sal 143 jaar duur om af te handel as die eise teen die huidige tempo afgehandel word. “Onafgehandelde grondeise bring die hele program vir die herverdeling van grond in die gedrang,” sê Delius.

‘Begin by die tuislandgebiede’

Prof. Maano Ramutsindela, ’n geograaf, meen die voormalige tuislande is die geskikste plek vir grondhervorming. Wat hom pla, is dat ’n “tuisland-mentaliteit” steeds bestaan in die hantering van dié gebiede, asook die ruimtelike ontwikkeling in metropolitaanse gebiede.

Hy sou verkies dat die inwoners van die voormalige tuislande die keuse van verskeie grondbesit- modelle gegun word. “Dis ’n vergissing om aan te neem dié mense kan grond net as familiegroepe of in stamverband besit. Mense moet self die keuse van grondbesit kan uitoefen, soos voorgeskryf deur die Grondwet.”

Prof. Danie Vermeulen, dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe aan die UV, sê een belangrike voorbehoud as grond herverdeel word, is dat die begunstigdes kundige boere moet wees wat voedselsekerheid sal kan verseker. “Ons sal moet seker maak die nuwelinge word behoorlik opgelei.”

Nasionalisering, of titelaktes?

“Aikôna, julle kan nie daagliks aan ons voorskryf dat julle beter weet nie,” was mnr. Motsepe Matlala se mening. Hy staan die nasionalisering van alle landbou- grond voor, gevolg deur ’n soort Kodesa-beraad om te bepaal watter mense waar kan boer.

“Suid-Afrika is ’n Afrikaland, en Afrika-oplossings moet hier gevind word. Wit boere gee nie om om in ander Afrikalande en selfs in Europa huurgeld vir landbougrond te betaal nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n minderheidsgroep van die bevolking die meeste landbougrond in Suid-Afrika besit. Grond moet gedeel word. Die grond moet deur die staat vir die mense in trust gehou word.” Matlala is ook ten gunste van ’n huurpagstelsel soos in Afrika bedryf word. Mnr. Pitso Sekhoto meen egter grond moet herverdeel word sonder vergoeding, maar begunstigdes moet titelaktes kry.

Hy is gekant teen nasionalisering. Hy sê Suid-Afrika het 38 000 wit kommersiële boere en slegs 5 000 swart kommersiële boere. “Dit is verkeerd dat wittes, wat maar 8,9% van die bevolking uitmaak, 72% van die landbougrond in die land besit.” Sekhoto het gesê boere moet ongebruikte grond aan hul plaaswerkers skenk, en die staat moet grond in sy besit uitdeel sodat grondloses daarop kan boer.

‘Verdeeldheid, emosie help nie’

Me. Annelize Crosby meen die huidige gronddebat verdeel die publiek en die landboubedryf, terwyl “daar ’n klomp aangeleent- hede is waaroor ons saamstem”. Sy sê die vraag is hoe grondhervorming radikaal bespoedig kan word op ’n wyse wat nie ernstige gevolge vir voedselsekerheid en die ekonomie gaan inhou nie.

“Dit is nie volhoubaar dat wit kommersiële boere met sowat 73% van Suid-Afrika se grond sit nie. Die nasionalisering van grond sal egter onberekenbare skade aanrig.” Mnr. Bennie van Zyl is bekommerd dat die emosionele benadering ten opsigte van grondhervorming irrasionele denke tot gevolg het.

“Suid-Afrika se werkloosheid en armoede kan net volhoubaar deur ekonomiese groei reggestel word. Die toepassing van dubbele standaarde met grondhervorming, soos deur uitsonderings vir mnr. Goodwill Zwelithini, die Zoeloe-koning, lei nie tot oplossings nie,” sê hy.

“Die landbou moet volhoubaar kan produseer, in teenstelling met Suid-Afrika se maatskaplike realiteit wat ingevolge sy eie spelreëls bedryf moet word. Die huidige las op die landbou se skouers sal anders benader moet word.” Die begrip van eiendomsreg in Suid-Afrika moet herbedink word sodat eiendom as ’n pakket van regte beskou word.

PROF. DANIE BRAND, direkteur, Vrystaatse Sentrum vir Menseregte
PROF. MAANO RAMUTSINDELA, adjunk-dekaan van natuur- wetenskappe, Universiteit van Kaapstad
MNR. MOTSEPE MATLALA, voorsitter van die National African Farmers’ Union (Nafu)
MNR. PITSO SEKHOTO, Vrystaatse streekvoorsitter van die landbouvereniging vir swart boere (Afasa)
ME.ANNE-LIZE CROSBY, hoof van grondsake by Agri SA
MNR. BENNIE VAN ZYL, hoofbestuurder van TLU SA