Die Wet op die Opgradering van Grondbesit, ook bekend as ULTRA, is in 2018 deur die Grondwethof ongeldig verklaar in die Rahube-saak omdat dit slegs mans as die hoofde van ’n familie erken en meebring dat waar grondbesitregte outomaties in eienaarskap omgeskakel word, dit slegs mans bevoordeel.

Die wysigings wil onder meer sien dat verblyfreg in eienaarskap omgeskakel kan word, dat die belanghebbendes in kennis gestel moet word van ’n aansoek van omskakeling en mense die geleentheid gegun kan word om kapsie te maak teen so ’n omskakeling. Kenners meen egter die risiko bestaan dat die nuwe weergawe van die wet óók ongrondwetlik kan wees.

Só is daar artikels in die wet wat na stamgrond verwys, wat inbreuk maak op individuele regte.

Mnr. Theo Boshoff, hoof van regsintelligensie by Agbiz, stel voor dat ’n ander proses van stapel gestuur word wat die wet holisties hersien, veral die konsep van stamgrond.

Hy wys uit dat gewoonte- en informele eiendomsregte gekenmerk word deur reëls wat gemeenskappe se toegang tot grond reguleer. Dié reëls verskil drasties tussen gemeenskappe, en om dit onder ’n simplistiese opskrif soos stamgrond te groepeer, laat nie reg daaraan geskied nie en kan onbedoelde verblyfreg-onsekerheid vir baie gemeenskappe bring.

Agbiz meen dat die artikels wat verwys na uitgediende terminologie, insluitend stamgrond, uit die wysigingswetgewing weggelaat moet word.

DIÉ ARTIKELS PLA

Artikel 19 van die wet sit die regskapasiteit uiteen van ’n stam om eiendom te bekom, en artikel 20 hanteer die oordrag van stamgrond na die stam. In artikel 20 word byvoorbeeld aangedui dat ’n stam die minister mag versoek om stamgrond oor te dra na die stam as eienaars.

Die sentrum vir grond en verantwoordbaarheid (LARC) meen dat die komitee die huidige proses vir die wysiging van ULTRA moet uitbrei sodat besin kan word oor dié twee artikels, en indien dit blyk dat dit nie binne die staat se raamwerk vir die hervorming van verblyfreg hoort nie, moet dit weggelaat word.

Tradisionele leiers het voorgestel dat alle stamgrond, waar daar nie dispute is nie, aan tradisionele rade oorgedra moet word. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ondersteun nie dié voorstel nie.

SIENINGS verskil

Me. Nokwanda Sihlali, navorser by LARC, die sentrum vir grond en verantwoordbaarheid, wys daarop dat ULTRA in werking getree het voor die aanvaarding van die Grondwet, wat beteken die wetgewing beskou verblyfreg op kommunale grond anders as artikel 25 (6 en 9) van die Grondwet. Dié artikels vereis dat ’n persoon of gemeenskap wie se verblyfreg onseker is weens diskriminerende wette of praktyke uit die verlede, geregtig is op óf verblyfreg wat regseker is, of vergelykbare vergoeding.

Ultra sien egter kommunale grondeienaarskap as gewoonteverblyfregstelsels met kollektiewe grondeienaarskap, waar die belange van die individu of familie nie bestaan nie. Die wet voorveronderstel ook dat die kollektiewe grondeienaarskap deur ’n enkele owerheid soos ’n tradisionele leier verteenwoordig moet word.

Sy waarsku dat as die oordrag van stamgrond toegelaat word sonder die uitdruklike erkenning en beskerming van individuele en familieregte tot grond, word die kwessies herhaal wat in die eerste plek aanleiding gegee het tot die Rahube-saak.

Die Rahube-uitspraak handel oor die beskerming van die regte van vroue en kwesbare mense, maar artikel 19 en 20 hou potensiële bedreigings vir daardie regte in. Die gebruik van ’n titelakte is eksklusief vir een eienaar, in hierdie geval die stam, met uitsluiting van ander mense se regte en belange van die grond.

VOLLE EIENAARSKAP

Me. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake, sê boere in die voormalige tuislandgebiede se gebrek aan eienaarsreg besorg hulle baie probleme. Huurgrond en wetlik erkende bewoningsreg kan nie vrylik deur die houer daarvan oorgedra word nie. Bewoningsreg word deur die bestuursowerheid (tradisionele leier of gemeenskapseiendomsvereniging) toegeken.

Dit belemmer landbouproduksie, want ’n suksesvolle boer kan nie sommer bykomende grond bekom deur dit te koop of te huur van ander huishoudings wat ook bewoningsreg het nie.

Bewoningsreg is ook nie vrylik oordraagbaar nie, derhalwe word dit nie sommer aanvaar vir sekuriteit vir lenings nie. Sy sê baie boerderybedrywighede is familiebesighede, en daarom moet verseker word dat die grond waarop die boerderyonderneming tot stand gebring word na die erfgenaam (familie) oorgedra kan word. Dit moenie oorgelaat word aan die diskresie van die bestuursowerheid van die grond nie.

DIE PAD VORENTOE

Die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het tot onlangs virtuele openbare verhore gehou oor die wysiging van die wet. Altesaam 441 partye het kommentaar gelewer.

Die komitee gaan nou verdere advies van die parlement se regspan inwin om te verseker dat die wetswysiging die grondwetlike toets sal slaag. Die komitee gaan ook besin oor die term “stam” en of dit verwyder moet word, omdat die manier hoe dié term gebruik word, sedert 1994 verander het.