“Ek gaan nie na baie plekke wat my inspireer nie, maar hierdie simposium is vir my ’n inspirasie,” het hy op die Landbouweekblad-PALS-grondsimposium op Ceres gesê. 

“Dis pragtig om te sien wat hier gebeur, en wat julle vandag hier bespreek. Dis wonderlik om mense te sien wat werklik dinge verander. As ons die stories in ’n bottel kan sit en vir die wêreld kan wys sal ons weer beleggersvertroue lok.”

Volgens hom spruit ekonomiese sukses uit vertroue, pogings wat van gewone mense af kom, en duidelike leierskap.

“Hierdie simposium is ’n poging deur gewone mense. Dis ’n poging wat geloof moet word en wat ’n verskil maak. So baie ander bedrywe in Suid-Afrika kan by die landbou kom leer.”

Ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling behoort ’n obsessie by Suid-Afrikaners te wees, meen Du Toit.

“Nie politiek nie. Menslike ontwikkeling en opvoeding sal die grondslag wees vir mededingendheid. Wat julle met PALS doen, moet julle oraloor doen.”