Só sê prof. Mohammed Karaan, landbou-ekonoom van die Universiteit Stellenbosch en landbou-argitek van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).

Hy het boere-afgevaardigdes op Graan SA se jaarkongres oor grondonteiening sonder vergoeding toegespreek. Dié kwessie was ’n warm patat tydens die twee dae wat die kongres op die Nampo-Oesdagplaas buite Bothaville geduur het, en daar was nie altyd eenstemmigheid oor wat die produsente-organisasie se amptelike standpunt daaroor moet wees nie.

Karaan het gesê dit is dalk nie wat almal wil hoor nie, maar hy meen ’n wysiging aan die Grondwet kan oorweeg word as dié dokument in sy bestaande vorm nie die doelwitte van geregtigheid en billikheid bewerkstellig nie.

“Ek is vandag ’n bietjie omgekrap. As ek ’n wit boer was, sou ek gevoel het ek wil my goed vat en loop; ek wil ophou boer, my beleggings begin onttrek en vir my kinders ’n ander toekoms gaan soek. 

“As ek ’n swart boer was, sou ek gevoel het ek kry steeds nie waarop ek geregtig is in die nuwe Suid-Afrika nie. Dit is ’n Suid-Afrika wat veronderstel was om een vir almal te wees, maar desondanks is ons nog nie waarlik ekonomies bevry nie.”

Die Parlementêre mosie oor onteiening sonder vergoeding het ongelukkig opnuut al die gelaaide emosie oor die dubbelsinnigheid van Suid-Afrika se grondhervormingsdoelwitte na vore gebring, het Karaan gesê.

“Die grondkwessie het eensklaps ‘die olifant in die kamer’ geword. Dit is nou die grootste kwessie van ons tyd. Ons móét dit nou takel ter wille van die geskiedenis en vir die geslagte wat ná ons gaan kom.”

Emosie
Hy het gewaarsku die kwessie is met hopeloos te veel emosie gelaai om net rasioneel en logies daaroor debat te probeer voer om oplossings te vind.

“Logika en rasionele argumente gaan jou nie hierdie debat laat wen nie.”

Karaan het gesê as hy een minuut met pres. Cyril Ramaphosa kon kry om sy standpunt oor die grondkwessie oor te dra, hy sal eerder vir hom ’n stuk musiek speel as om dit met woorde te probeer doen. Op Karaan se versoek is Nana Mouskouri se weergawe van die klassieke Spaanse lied Recuerdos de la Alhambra (Herinneringe aan die Alhambra) aan die kongres voorgespeel.

Dié lied verwys na die eens Moorse paleis en fort in Granada, Spanje, wat later deur die Kruisvaarders oorgeneem is. Die More, wat aanvanklik na Spanje gebring is om die Protestante in hul gevegte teen die Katolieke by te staan, het hul destyds in dié land as ’n hoogs suksesvolle bevolkingsgroep gevestig. 

Ná etlike eeue is die Spaanse More egter weer uit Spanje verdryf, terug na waar hulle oorspronklik vandaan gekom het. Soortgelyke argumente oor grondonteiening sonder vergoeding was in hierdie stuk geskiedenis ook aan die orde van die dag, net soos vandag in Suid-Afrika en lande soos Venezuela, het Karaan gesê.

“Die kwessie is emosioneel belaai, en as ons nie daarin slaag om dit nou reg te stel nie, kan dieselfde hier gebeur as wat daar gebeur het. Die enigste oorblyfsel wat nog herinner aan die eertydse suksesvolle Spaanse More is dat die meeste moderne Spanjaarde nog ’n half Arabiese trek het.