Altesaam 183 parlementslede het ten gunste van die mosie gestem en 77 daarteen. Die politieke partye wat teen die mosie gekant is, is die DA, Cope, IVP, VF Plus en ACDP.

Luidens die mosie moet die Parlement ’n ad hoc-komitee tot stand bring om onder meer:

·         Wetgewing op te stel en voor te stel vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet.

·         Die voorstelle in die verslag van die grondwetlike hersieningskomitee in ag te neem.

Die komitee moet bestaan uit 11 stemgeregtigde lede van die Nasionale Vergadering met ses lede van die ANC, twee van die DA, een van die EFF, en twee lede van ander partye. Verder moet 14 lede van die Nasionale Vergadering wat nie stemreg het nie, ook deel vorm van die komitee. Dié lede moet soos volg saamgestel word: twee lede van die ANC, een van die DA, een van die EFF en tien van ander partye.

Die sperdatum waarop die komitee die wetsontwerp moet indien, is 31 Maart 2019.

Vurige debat

Die stemming oor die mosie is voorafgegaan deur ‘n vurige debat waarin die ANC selfs gewaarsku is dat hy verantwoordelik gehou sal word vir enige bloedvergieting wat kan plaasvind.

“Gaan hulle ons kom doodmaak en ons grond vat. As die bloed vloei, sal dit op jou hande wees,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-LP, tydens die debat gesê.

Die EFF het vroeër gesê dat daar vir “die wit mense se grond gekom word”.

Die IVP het by monde van mnr. Mkhuleko Hlengwa gesê dat die ANC hom moet skaam dat hy die mosie, wat vol foute is, so vinnig ter tafel wil lê.

Me. Deidre Carter, Cope-LP, het gesê haar party verwerp die mosie, wat die resultaat is van ‘n komiteeproses wat deurspek met foute was.

Sy het ook die adj. speaker, mnr. Lechesa Tsenoli, aangevat omdat hy volgens haar nie opgetree het teen LP’s wat tydens die debat rasistiese opmerkings gemaak het nie. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.