Mnr. Hennie Lourens, uitvoerende hoof van Quantum Foods, sê die vraag na eiers het sedert die inperking gestyg.

Die pandemie bring egter soveel onsekerhede mee dat dit moeilik is om ’n aanduiding te gee in watter rigting die prys kan beweeg. Hy het die maatskappy se resultate vir die ses maande tot 31 Maart 2020 vandeesweek bekend gestel.

“Ons verwag ’n verbetering in die vraag-en-aanbodbalans van eiers in die tweede helfte van die boekjaar. Die aanbod in eiers behoort effens laer te wees omdat daar minder plasings van dagoudkuikens was.

“Eierpryse sal oordeelkundig bestuur word om ’n balans te vind tussen die nodigheid om ’n volhoubare onderneming te verseker en die behoeftes van die verbruiker.”

Die afname in plasings reeds voor die inperking kan waarskynlik aan die daling in eierpryse en die styging in voerpryse toegeskryf word.

Lourens sê die insetkoste vir voer sal na verwagting weens die verswakking in die rand in die volgende ses maande verder styg.

Die grootte van die nasionale lêhentrop was in September 2019 28,1 miljoen en in Maart 2020 29,4 miljoen, wat tot ’n ooraanbod in eiers gelei het.

Die prysdaling, tesame met ’n styging in voerkoste, het vir Nulaid Eggs, Quantum se eier-afdeling, tot laer marges gelei. ’n Styging in verkope van 16,3% was nie genoeg om die uitwerking van die laer pryse en hoër voerkoste teë te werk nie.

Nulaid Eggs het ’n verlies van R19,5 miljoen gely, vergeleke met ’n wins van R27,3 miljoen in die vorige ooreenstemmende tydperk. Dié verlies was die belangrikste rede waarom Quantum se wesensverdiente met 30% tot R67 miljoen gedaal het.

Lourens het gesê koste in die eier-afdeling is goed beheer en die koste gemeet in rand/dosyn het gedaal.

Die maatskappy het, anders as talle ander genoteerde maatskappye, ’n dividend verklaar. Die 6c-dividend is 2c minder as in die vorige ooreenstemmende tydperk.

Lourens het gesê die maatskappy het ’n sterk balansstaat met beskikbare kontant.

Ander afdelings

Nova Feeds se volume van verkope het met 18% gestyg en marges het met 2,2% verbeter. Die afdeling se prestasie is egter deur beurtkrag benadeel.

In Quantum se boerdery-afdeling het die lêhen-teelbedrywighede steeds Lohmann-rasstandaarde oortref. Produksievolume van dagoudhennetjies en gereed-om-te-lê-henne het onderskeidelik met 6,8% en 11,6% gestyg.

Die kommersiële lêhenplase se doeltreffendheid het verder verbeter en die hoogste vlak sedert 2014 bereik.

In die braaihoendereenheid het volumes van dagoudkuikens met 4,1% gestyg.

Afrika

In die drie ander Afrikalande waar Quantum Foods bedrywighede het, was die toestande moeilike weens stygings in insetkoste vir voer, wisselvallige klimaatstoestande en algemene moeilike ekonomiese omstandighede.

In Zambië het rekordhoë mieliepryse die vraag na dagoudkuikens skerp laat daal omdat boere nie die voer kon bekostig nie. Die omstandighede het reeds begin verbeter, onder meer danksy goeie reën.

In Mosambiek het sake beter verloop as wat verwag is, en in Uganda was die nuwe teelplaas einde Maart gereed vir plasings.

Bedrywighede in al drie lande het ’n gunstige bydrae tot die maatskappy se wins gelewer.