Hy is ná ’n heupvervanging in die Groenkloof-hospitaal weens hartprobleme na die Eugene Marais-hospitaal oorgeplaas waar hy oorlede is. Hy word deur twee seuns, Tom en Jan, en hul gesinne oorleef. Sy vrou, Elizabeth, het hom jare gelede ontval.

Mnr. Leslie Bergh van die Landbounavorsingsraad (LNR) sê Dok Hoffie, soos sy kollegas hom genoem het, was jare tot met sy aftrede die direkteur van die Navorsingsinstituut vir Vee- en Suiwelkunde (NIVS) op Irene waar Bergh in 1982 sy loopbaan begin het. “Dok Hoffie het 'n groot invloed op my vormingsjare as veekundige gehad. Sy dood is dié van ’n groot boom wat geval het.”

In die gedenkuitgawe van Bonsmara SA, Bonsmara: Born to Breed – Born to Lead, onder redaksie van Petro Ferreira en Eddie Webb, word die ontstaan en ontwikkeling van die Bonsmara-beesras beskryf. Daar word vertel oor die rol wat veekundiges, soos proff. A.M. Bosman en Jan Bonsma, asook dr. Jan Hofmeyr, gespeel het en die werk agter die skerms, die filosofieë, die hartseer en die roem van die belanghebbendes.

Dr. Raymund Naudé, Hofmeyr se opvolger as direkteur, sê Dok Hoffie het onder meer bevorderingskomitees ingestel vir vleis- en melkbeeste, wolskape, varke en hoenders. Die NIVS is in die 1950’s gestig vir suiwelnavorsing en die melkaantekeningskema.

Hy was die departement van landbou se hoofonderhandelaar by die Vleisraad vir die bou en vestiging van ’n vleisnavorsingsentrum op Irene. Hofmeyr se bydrae sluit ook in die vestiging van bultoetsstasies om genetiese modelle vir die veebedryf op te stel, asook die departement se veeverbeteringskemas met kantore oor die land heen.

Op internasionale vlak het Hofmeyr ook ’n leidende rol gespeel in die Wêreldvereniging vir Dieregenetika waar die toetsmetodiek vir die veeverbeteringskemas verfyn is.

Een van die latere opvolgers in die pos, dr. Heinz Meissner, het Hofmeyr geloof vir die baanbrekerswerk ten opsigte van onder meer veeverbetering.