Mnr. Hannes en me. Susan Bothma van die plaas Lemoenkolk sê hulle het nog nooit daar so baie water bymekaar gesien nie. Boonop het die reën op die regte tyd gekom. “Ons kan nie ophou dankie sê nie.”

Die reën wat hulle die afgelope drie jaar gekry het, was ver onder die langtermyngemiddelde van 150 mm per jaar, sê Hannes. “Verlede jaar het ons net 55 mm reën gekry. Jy oorleef dan tot die genade kom.”

Reën op Noenieput. Foto: Susan Bothma
Reën op Noenieput. Foto: Susan Bothma
Reën op Noenieput. Foto: Susan Bothma
Reën op Noenieput. Foto: Susan Bothma
Reën op Noenieput. Foto: Susan Bothma
reën Noenieput,
Die reënwaterpoele staan in die veld by Noenieput. Foto: Susan Bothman
reën Noenieput,
Die reënwaterpoele staan in die veld by Noenieput. Foto: Susan Bothman
reën Noenieput,
Die reënwaterpoele staan in die veld by Noenieput. Foto: Susan Bothman

Hy sê as jy in sulke omstandighede wil vee bemark, is dit die beste om die skape of lammers kraal toe te bring en hulle voer te gee tot hulle kondisie het en hulle dan te laai.

Die eerste sarsie reën van 72 mm het baie vinnig geval en die gatdamme se inlope beskadig en ’n damwal gebreek.

Die reën het wyd geval, maar dit sal ’n rukkie duur voordat die graspolle uitspruit en hulle die vee kan injaag. Hannes sê van die graspolle het boonop in die droogte gevrek.

Hy meen die driedoringbos kan in die week begin blom. “ ’n Ou oom het gesê as hy blom, is dit so goed soos ’n sak mielies. Die peule wat daarna kom, is net so goed.”

Pofadder ook nat

Sosiale media was die afgelope naweek vol stories oor ’n outydse twee duim (50 mm) reën by Pofadder. Mnr. Kosie Hanekom van die plaas Shaw-se-vlei tussen Pofadder en Kliprand sê sy vrou en kinders moes Vrydag ’n ompad ry om van Upington af weer op die plaas te kom.

reën op Pofadder,
Mnr. Kosie Hanekom en AJ (links) takseer die welkome reën wat hulle die afgelope naweek op hul plaas naby Pofadder gekry het. Foto: Michelle Hanekom

Hulle het 7 mm tot 22 mm op hul plaas gemeet en van hul buurmense het 30 mm en 32 mm gekry. Daar is wel boere in dié distrik wat nog nie reën gekry het nie.

Hanekom sê hulle is dankbaar vir die mooi begin. Hulle was gelukkig om verlede jaar in Februarie en voor Paasnaweek goeie reën te kry. “Dit het ons deur die winter getrek, maar teen die einde van die jaar moes ons weer voer gee.”

Hulle het op Oujaarsdag 7 mm tot 14 mm gekry, wat die veld ’n “effense lewetjie” gegee het, maar ná die reën moet hulle ’n opvolg kry om deur die winter te kom. Hanekom sê ná die koue Kersfees en Januarie is die weer darem aan’t verander.

“Ons het Januarie winter gehad. Die kinders het amper nooit geswem nie en ek moes ’n paar oggende ’n oorpak aantrek so koel was dit.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.