Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die meeste reën het in die noordelike en oostelike dele van die provinsie voorgekom. “Neerslae begin ook in die sentrale dele verligting bring,” sê hy. “Dele rondom De Aar en Carnarvon het reënbuitjies aangemeld, maar verder suid bly dit droog. In die droë gebiede is buie van 5 mm tot 7 mm reën kol-kol aangeteken, wat tot dusver nie genoeg is om die droogte te breek nie.”

Volgens Jansen is boere optimisties oor die verbetering in produksietoestande, aangesien die heersende weerpatrone teenoor dié van die droogtejare verskil. “Ek glo dat die laaste paar maande van die somerreëntyd nog genoeg neerslae sal meebring om in die droogtedele verligting te bring.”

Skenkings

Hy sê mense kan onder die indruk verkeer dat individuele skenkings van so min as R200 nie ’n verskil aan die nood kan maak nie. “As dié bedrag die tekort is op die vervoerkoste van ’n vrag voer, beteken dit dat die vrag nie die boer in nood bereik nie. Elke bietjie help om ’n verskil te maak.”

Agri Noord-Kaap verleen tans hulp aan 19 van sy 25 landbou-unies. Altesaam 36 groot vragte voer is die afgelope sewe weke in die provinsie versprei. Dit het Agri Noord-Kaap bykans R400 000 gekos. “Ons kan dié noodleniging slegs vermag danksy die skenkings wat ’n reusagtige verskil maak,” sê Jansen.

Altesame R156 000 is die afgelope sewe weke ingevolge Agri Noord-Kaap se koeponstelsel aan humanitêre hulp aan boere bestee. Die stelsel ondersteun die plattelandse ekonomie wanneer die koopbewyse op dorpe verhandel word.

Hulplyn

Die reaksie van boere op Agri Noord-Kaap se hulplyn stem Jansen tot kommer. “Boere midde-in die droogteramp kan slegs emosioneel staande bly met ondersteuning van hul gesinne, gemeenskappe en binne kerkverband,” sê hy. “Die reënbuie wat voorkom, stem die boere tot hoop met die wete dat dit wel kan reën.”